Die gemeenskap het vier lede verkies om voor te vat, te wete Jovan Bruinders, Elsabe Moolman, John Blou en Dawid Kamfer. Op hul beurt het hulle verteenwoordigers van die gemeenskap opgeroep om in groot getalle na die Nativity Kerksaal op te ruk. Hulle het die gemeenskap ook gevra om behulpsaam te wees en seker te maak dat die vergadering ordelik en vreedsaam sal verloop.
Die nodige aansoek om magtiging is reeds by die munisipaliteit ingedien, en die burgemeester se assistent het na bewering bevestig dat daar geen ander dringende sake op haar dagboek vir daardie dag voorkom nie.
Die vergadering is geken aan 'n versoenende gesindheid en die komitee het die gemeenskap gemaan om nie die byeenkoms of die griefskrif in politieke terme te benader nie - hulle het veral gevra dat gemeenskapslede nie met enige politiek-geïdentifiseerde kleredrag na die byeenkoms opruk nie.
Die byeenkoms sal om 14:00 in die Nativity Kerksaal plaasvind, waar die griefskrif na verwagting om 15:00 aan die burgemeester oorhandig sal word. Op vrae of die burgemeester wel die griefskrif persoonlik in ontvangs sal neem, het verskeie lede uit die gemeenskap dit duidelik gemaak dat mev Ferreira 'die moeder van Mosselbaai is, en 'n ma sal na haar kinders luister'. Verskeie sprekers het bevestig dat mev Ferreira nog altyd 'n gewillige oor vir die gemeenskap gehad het, en dat hulle daarvan oortuig is dat sy die tyd sal maak om die gemeenskap se griewe te hanteer.
Die vergadering is herhaaldelik gemaan om nie fokus te verloor nie, en om seker te maak die werklike griewe word na behore aangespreek. Die vergadering se voorsitter het die gemeenskap versoek om 'n lys van griewe op te stel wat aan die munisipaliteit voorgehou sal word, die vernaamste waarvan die feit is dat die gemeenskap nie 'n plakkerskamp op die grond gevestig wil hê nie. Die groot vrees by die gemeenskap het geblyk hul veiligheid te wees, sou 'n plakkerskamp daar ontstaan, veral omdat behoorlike beligting skynbaar nie hoog op die prioriteitslys voorkom nie.
Van die ander versoeke wat die gemeenskap op die petisie gelys wil sien, is dat die munisipaliteit behoorlik met hulle moet konsulteer alvorens met enige ontwikkeling wat hulle direk raak, begin word. Hulle wil graag persoonlike gesprekvoering hê, nie net kennisgewings in koerante wat in wetlike taal opgestel is nie. Verder wil hulle graag behoorlike huise op die grond sien, met erwe groot genoeg waar kinders sal kan speel. Hulle vra ook dat gemeenskapsgeriewe soos klinieke, openbare ruimtes en behoorlik begaanbare paaie deel van die ontwikkeling moet vorm.
Die gemeenskap het ook beswaar gemaak teen die feit dat mense wat nie op bestaande waglyste vir behoorlike behuising is nie, skynbaar voorkeur kry by die projek. Daar is ook geva waarom die gemeenskapskomitee nie die gemeenskap in onderhandelinge met die munisipaliteit kan verteenwoordig nie.
Die vergadering het ook versoek dat die munisipaliteit op hul griewe sal antwoord, en dat hulle nie 'vir tyd en ewigheid' sal moet wag op terugvoer nie.
Mnr Blou het die gemeenskap versoek om seker te maak dat hulle gepas reëlings tref om die vergadering by te woon - en om seker te maak dat die vergadering nie vir kleinlike politieke voordeel gekaap word nie.
Op 'n vraag oor raadslid Moodie en die gewraakte woorde wat sy by 'n vorige vergadering sou gebruik het, is die vergadering ingelig dat haar optrede nie die fokus van die vergadering is nie, maar dat Adv Spatel op 7 Junie reeds beëdigde verklarings afgeneem het om die saak verder te neem. Die vergadering het die hoop uitgespreek dat die munisipaliteit gepas teen die raadslid sou optree.

Bykans 250 mense het die gemeenskapsvergadering oor die ontwikkeling op Erf 6422 op 11 Junie in die Nativity Kerk se saal bygewoon. Die vergadering het in ‘n baie goeie, nie-partypolitieke gees plaasgevind.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS