MOSSELBAAI NUUS - Die blinde navigatorstydren is om die draai en die deelnemers is opgewonde vir die uitdaging.
Volgens André van der Nest van die St Blaize Lionsklub (die aanbieders van hierdie geleentheid), is daar vanjaar 25 spanne wat mekaar die stryd aansê. Dit beteken 25 blinde navigators, en 25 siende bestuurders.
Oomblikke voor die tydren begin word die aanwysings eers oorhandig. Dié is egter slegs in braille, wat beteken die bestuurder is totaal afhanklik van sy of haar navigator.
Die eerste span vertrek Saterdagoggend, 6 April, 10:00 by Salt & Copper. Spanne vertrek met tussenposes uit mekaar weg. Van daar het hulle sekere punte wat hulle moet bereik oor 'n afstand van tussen 80km en 90km voor hulle weer hul pad terugvind tot by die beginpunt.
Daar is sekere spoedbeperkings waarby bestuurders moet hou - te stadig en jy verloor punte, maar te vínnig, en jy verloor ook punte, verduidelik Van der Nest.
Sou hierdie vir jou na 'n pret ervaring klink, kan jy dalk ook deelneem. Enige bestuurders wat belangstel kan vir Lynette Reynecke (082 573 9134) kontak.
Hou in gedagte, jy gebruik jou eie voertuig, en daar is grondpaaie betrokke.
Vanjaar sal daar ook knortjorre en vierwielmotorfietse betrokke wees, maar eers na afloop van die tydren - dié deel is net vir pret. Hier klim die blindes egter agter die stuur en die aanvanklike bestuurders speel nou navigator.
Van der Nest het ook lede van die publiek uitgenooi om daardie aand vir die dinee by die Mosselbaai Gholfklub by hulle aan te sluit.
Die wenners word hier aangekondig. Daar is 50 plekke beskikbaar en kaartjies beloop R200. Die dinee begin om 18:00. Daar is pryse te wen asook 'n veiling om aan deel te neem.
Kontak Van der Nest (084 2773245) vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’