MOSSELBAAI NUUSFLITS - Drie rylopers is omstreeks 16:00 op die N2 deur drie onbekende mans met messe gedreig en van 'n groot bedrag kontant en twee selfone beroof.
Die rowers, wat ook te voet was, het toe in die rigting van die Shell-vulstasie in Voorbaai beweeg en die slagoffers het besluit om hulle te agtervolg.
By die vulstasie het die slagoffers sig verloor van twee van die rowers. Die derde rower is egter voorgekeer en 'n skarmutseling het ontstaan tussen die slagoffers en die rower.
In dié onderonsie is een van die slagoffers deur die rower met 'n mes in die bobeen gesteek.
Op daardie stadium het 'n blou voertuig by die groep mans stilgehou en die rower het in hierdie voertuig gespring en die voertuig het weggejaag.
Die Da Gamaskop-polisiestasie ondersoek 'n klag van roof met 'n wapen anders as 'n vuurwapen, asook 'n klag van aanranding ernstig.
Geen verdere besonderhede oor die verdagtes is tans beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'