TUINROETE NUUS - Die hoofafrigter van die Crusaders-rugbyklub, Stanley Kruger (55), is gister om 10:00 vanuit die NG Kerk in Hartenbos ter ruste gelê.
Kruger is verlede Donderdagmiddag, 14 Augustus, oorlede nadat sy motorfiets op die hoek van Beachweg en Olympicrylaan in Pacaltsdorp met 'n ligte vragmotor gebots het.
Kollegas, wetstoepassers en verkeerspersoneel was binne minute op die toneel waar hulle op ambulansdienste gewag het.
Kruger het op die sypaadjie gelê, maar kon ten spyte van sy beserings, nog praat.
Sy dogter, Shané, 'n verpleegster by Mediclinic Klein Karoo in Oudtshoorn, het vandeesweek gesê haar pa laat 'n groot leemte in hul lewens.
Sy was by 'n naelafspraak toe sy die nuus van die ongeluk kry, maar het eers net aangeneem hy is beseer. Intussen het boodskappe na haar selfoon ingestroom en was dit eers met haar aankoms op die toneel dat sy gesien het haar pa is met 'n wit laken toegegooi. "Dit was so onwerklik," sê sy.
In haar gesprek met Mossel Bay Advertiser se susterkoerant, George Herald het sy vertel van sy liefde vir sy familie, rugby, die Crusaders-span en sy "rugbymense".
"Ek sou hom soms spot en sê hy moet minder op Sportbeat op Facebook praat," vertel sy.
Sy het Crusaders bedank dat haar pa die jaar by hulle kon afrig, asook die rugbygemeenskap en sy kollegas vir die bemoedigende boodskappe en oproepe.
Kruger en die span van Parkdene, Crusaders, wat hy sedert die begin van die jaar afrig.
Sy begrafnis was oop vir almal wat gevoel het hulle wou kom. “My pa sou dit so wou hê."
Kruger het in Boshoff in die Vrystaat grootgeword, waar die meeste van sy familie steeds woon. Hy en sy gesin het in Reebok gebly.
By Olympia Vaardigheidskool, waar Kruger 'n onderwyser was, het daar die week 'n somber atmosfeer geheers. Blomme is voor sy klaskamer neergelê en in die voorportaal het 'n kers langs 'n foto van hom gebrand.
Op die skool se Facebookblad skryf hulle dat Kruger vir 12 jaar lank die hartklop van hul skool was.
"Hy was passievol, uitgesproke en altyd gereed om sy alles te gee. Of dit nou op die veld of in die klaskamer was, hy het leerders geïnspireer met sy energie, sy liefde vir onderrig en sy onwrikbare toewyding om altyd die beste vir die skool te doen.
Stanley Kruger
"Stanley het nooit 'n uitdaging ontsien nie. Hy was altyd ‘gereed vir enigiets’ en sy stem was dikwels die klankbaan van ons personeelkamer en langs die kantlyn, waar hy almal met sy snaakse grappies laat lag het.
"Hy het 'n besondere gawe gehad om mense bymekaar te bring, geesdrif te lig en te sorg dat elkeen raakgesien voel. Nederig, vriendelik en oneindig ruimhartig, het Stanley altyd uit sy pad gegaan om ander te help. Aan Stanley se familie, dankie dat julle hom met ons gedeel het."
Crusaders het Dinsdagaand 'n gedenkdiens gehou waar ondersteuners en spelers hul laaste eer aan hul geliefde afrigter betoon het.
Hy het voorheen ook die spanne van Bridgton in Oudtshoorn en Baabaas in Mosselbaai afgerig.
Kruger, een van agt kinders, laat sy vrou, Engela, sy dogter Shané en seuns Benrico en Dandré agter.
Die Pacaltsdorp-polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’