MOSSELBAAI NUUS - Daniël Buys, 'n bekende in plaaslike sportkringe op Mosselbaai is op die ouderdom van 73 jaar oorlede.
Hierdie kranige skrumskakel uit die vroeë 1970's was baie gewild onder rugby-ondersteuners in die groter Mosselbaai, asook in die Suid Kaap. Daniël het in die Voorbaai-omgewing grootgeword en was geliefd deur vriende en familie.
Op jeugdige ouderdom het hy sy buiging gemaak vir Young Blues RVK, wat in die omgewing van Voorbaai gestig is. Gedurende die laat 1960's het Daniël verhuis na Uitbreiding 8, toé 'n nuwe woonbuurt in Mosselbaai. Dit was juis in daardie era wat hy as 'n goed-afgeronde skrumskakel die oog van rugbykenners op Mosselbaai gevang het.
Daniël het meer as 20 jaar by Nestlé gewerk. Sy ander groot liefde in sport was veerpyltjies. Hy het die SWD-span in verskeie toernooie verteenwoordig en het hom goed van sy taak gekwyt. Maar, hy sal altyd deur sy familie en vriende onthou word as een van die beste skrumskakels in die groter Suid-Kaap wat nooit op provinsiale vlak kon speel nie, ten spyte van die gehalte van sy spel.
Daniël laat ses dogters en 'n seun agter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'