RUBRIEK - Die Ever Given, 'n reusagtige vragskip van 200 000 ton, gaan steek toe vir 'n week lank vanaf 23 Maart dwars in die kanaal vas. Meer as 300 skepe is vertraag. Nie alleen was Suez geblokkeer nie, maar wêreldhandel het 'n vertraging en/of verlies van 9,6 miljard Amerikaanse dollar per dag ervaar.
Die Suez-kanaal met sy lengte van 183 km, tussen die Middellandse en Rooisee, verkort die roete oor die Atlantiese Oseaan enorm, byvoorbeeld van Londen na die Arabiese See [vir olie-inskeping] met 8 900 km of 8 tot 10 seedae. Jare lank was die gemiddelde deurvaart 51 per dag.
In die middel negentienvyftigs, te midde van internasionale aandeelhouding, het die Egiptiese president, generaal Gamal Abdel Nasser, die kanaal genasionaliseer. As vergryp was dit een van die oorsake van die sogenaamde Suez-krisis in November 1956 met 'n bitsige, blitsige volskaalse oorlog, hoofsaaklik tussen Egipte en Israel.
Weer kom daar 'n volskaalse geveg – die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967. Die kanaal het daarna agt jaar gesluit gebly, met 'n reuse-opeenhoping van skeepvaart in en om die Kaap. In 1973 was daar weer oorlog, gevolg deur 'n massiewe opruiming van verskillende mynsoorte.
Verbeteringe aan die deurvaart word gereeld aangebring. So is die ‘Ballah Bypass’ in 2014 gebou.
Dit het die aantal skepe, oor 'n groot deel van die kanaal, vir gelyktydige tweerigtingvaart moontlik gemaak. Die deurvaartsyfer is amper verdubbel – tot 'n dag-gemiddeld van 97, dus sowat 35 400 per jaar. In 2015 is die sogenaamde Nuwe Suez met nog groter gebruiksmoontlikhede oopgestel.
Napoleon, tydens sy kampanje in Egipte in 1798, was so geboei deur die verhale van ou kanale dat hy 'n hele groep wetenskaplikes aangestel het om die woestyn om te keer op soek na bewyse.
Een is inderdaad ontdek – vanaf die Rooi See na die Nyl. Later toe Napoleon die Franse staatshoof was, het hy in 1804 opdrag gegee vir 'n kanaalplan. Maar dis alles op grond van foutiewe opmetings laat vaar – die Rooi See sou dan 8,5 m hoër as die Middellandse see wees! Durabele sluise sou gebou moes word om die verskil te hanteer. Dis veral weens koste-oorwegings laat vaar.
Daar is wel 'n algemene hoogteverskil by tye van 1,2 m [gewoonlik hoër aan die Rooisee-kant] maar dit word soos 'n gety toegelaat.
De Lesseps [die hoof-kanaalbouer van 1859 tot 1869] het 13 eksperts van 7 lande in die ‘Commission Internationale for the Piercing of the Isthmus of Suez’ aangestel het. Hy wou nie die blaam alleen dra indien iets skeef sou loop nie! Sterk Britse teenstand teen die bou van die kanaal was destyds voorop – ‘from its outset to its completion’. Waarskynlik was dit weens Britse vasberadenheid om hul wêreld-oorheersing via die Kaapse seeroete en die landroete na die Ooste te behou.
Die bouwerk van tien jaar het deurgaans 30 000 arbeiders gebruik. Nasser het verklaar dat 120 000 werkers weens swak versorging dood is – nog 'n koloniale skande. Die werkgewers het 'n syfer van 30 000 voorgehou – asof dit nie ook 'n skande is nie.
In 'n volgende aflewering nog meer oor die fassinering van Suez.
Ons wêreld verskyn elke tweede week.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'