MOSSELBAAI NUUS - Ruan van Rensburg het op die ouderdom van ses in Vereeniging begin stoei.
Nou, as 'n gr. 11-leerder aan Hoërskool Punt, droom hy van die Olimpiese Spele.
Op 'n jong ouderdom het hy reeds provinsiale kleure in dié sport gekry, maar weens sy gesin se verhuising na Wildernis toe hy agt was, het sy paaie vir eers ander rigtings ingeslaan.
Hier begin hy egter aan judo en kurash deelneem, waarin hy dan ook provinsiale en nasionale kleure kry en die kans kry om die land by die Afrika Spele in Mosambiek te verteenwoordig. Hy behaal tweede plek.
Covid kom, wat beteken geen toernooie nie, ek hy vat 'n breek tussen 2022 en 2023.
Dis juis in hierdie tyd dat hy sy verlange na die stoeimatte besef.
Passie
Hierdie jong man het sy passie vir stoei, eintlik vir sport as geheel, by sy familie, veral sy oupas, gekry. Oupa Corrie van Rensburg het boks afgerig en oupa Piet Nel was altyd sy grootste ondersteuner.
Ruan van Rensburg spog met sy talle medaljes.
En dan is daar ook een van sy grootste rolmodelle, coach Robert Harris van George.
Ruan het in 2024 met opslae teruggekeer na die matte en 'n vierde plek behaal tydens die SA nasionale jeug- en president-stoeikampioenskap in Stellenbosch.
In 2025 begin hy weer met 'n spoed te danke aan die Mosselbaai-stoeiklub onder leiding van coach Christo van Staden. Vanjaar het hy al reeds op nasionale vlak 'n derde plek behaal, op provinsiaal twee silwermedaljes en by sy klub se streekskampioenskap goud.
Harde werk
Dié prestasies kom egter nie sonder harde werk nie. Op Dinsdae en Donderdae oefen hy by die klub en Maandae, Woensdae, Vrydae en Saterdae op sy eie by die Crossfit.
Hy kyk nou vorentoe en berei voor vir die SA's wat in Julie plaasvind - hier mik hy vir goud.
Daar is egter nog twee groot toernooie voor die SA's: die Abraham Geldenhuys in Mei en die Herman Lourens in Junie. Beide hierdie provinsiale toernooie gee hom genoeg tyd vir behoorlike voorbereiding.
Ruan se grootste droom is om Suid-Afrika te kan verteenwoordig en sy goue medalje tydens die Olimpiese Spele te kry. Hy werk ook baie hard om 'n sportbeurs te verdien en sal graag sportwetenskap wil gaan studeer wanneer hy nie meer kan stoei nie. Stoei is in sy bloed, maar sy ma, Zelna, sê hierdie prestasies lê egter voor die Hemelse Vader se voete.
Ruan se leuse
I am the offence
I am the defence
I never sit the
bench
I never take a
play off
It's all on me
I am a
WRESTLER.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’