Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Op en wakker sekuriteitswag het nie geskroom om twee gewapende rowers agterna te sit nie, nadat 'n kitsbank binne die Pick n Pay, Fraaiuitsig op Klein-Brakrivier van duisende rand beroof is.
Die polisie op Groot-Brakrivier het 'n grootskaalse soektog geloods nadat die rowers minstens R52 500 gebuit het.
Personeel van die Pick n Pay op Klein-Brakrivier was teen druktyd steeds te geskok om met die Mossel Bay Advertiser oor die gebeure te gesels. Volgens polisiewoordvoerder, sersant Laurianne Botha, het twee gemaskerde verdagtes op Maandag, 27 April toegeslaan. Die rooftog het plaasgevind kort nadat 'n werknemer van Pick n Pay om ongeveer 17:30 die kitsbank binne die winkel se kontant uitgehaal het om dit voor toemaaktyd in die kluis te bêre. Die verdagtes het die werknemer met 'n vuurwapen aangerand en die houers met geld gegryp voordat hulle te voet gevlug het.
Unathi Willie, 'n sekuriteitswag van Niqua Sekuriteit, was 'n paar honderd meter van die misdaadtoneel af toe hy kort ná die voorval 'n noodalarm ontvang.
Willie het hom na die winkelsentrum gehaas.
Hy sê dat hy twee gewapende mans met geldtrommels sien weghardloop het waarna hy die verdagtes in sy voertuig agternagesit het. Die verdagtes het in die rigting van Powertown gehardloop. Willie het die verdagtes eers met sy voertuig gevolg waarna hy gestop het en hulle verder te voet agternagesit het. Hy sê hy het die verdagtes tot by 'n woning gevolg waar hulle vermoedelik ingegaan het. Willie se soektog het in Powertown doodgeloop, maar is verder deur die polisie op Groot-Brakrivier voortgesit.
"Hy is my yster en het geen bang haar op sy kop," het Willie se takbestuurder, Gert Grobler aan die Advertiser gesê. Grobler vertel dat Willie 'n tyd gelede 'n verdagte inbreker, wat op parool is, by Tergniet tot in die see gejaag het in 'n poging om misdaad te bekamp.
Intussen fynkam die polisie en forensiese deskundiges die gebied.
Die verdagtes is, na wat verneem word, naby die N2 duskant Klein-Brakrivier gesien, waar hulle die pad in die rigting van die Eden Country Inn oorgesteek het.
Die polisie se soektog duur voort en leidrade word opgevolg. Teen druktyd was daar nog geen arrestasie in verband met die rooftog gemaak nie.
Winkel- en huiseienaars word gewaarsku om in die tyd paraat te wees en enige ongerymdhede aan te meld.
Die Pick 'n Pay in Fraaiuitsig is Maandagaand, 27 April net voor toemaaktyd van R52500 beroof. Foto: Jannie du Plessis
Twee gewapende rowers het toegeslaan op die Pick 'n Pay Fraaiuitsig toe 'n werknemer die geld van 'n OTM in die winkel in die kantoor wou bêre. Foto: Jannie du Plessis
Unathi Willie het die rowers tot in Powertown met sy voertuig agternagesit. Foto: Jannie du Plessis
Die rowers het later die aand vermoedelik vanaf Powertown (links), oor die N2-snelweg in die rigting van die Eden Country Inn gehardloop. Foto: Jannie du Plessis
Vorige artikel: Gewapende rooftog in Fraaiuitsig
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'