MOSSELBAAI NUUS - Twee jong vroue, 'n baba en 'n eenjarige peuter het 'n baie traumatiese ervaring gehad toe hulle verlede Donderdag in die vroeë oggendure slagoffers van 'n huisroof was.
Die voorval het omstreeks 02:40 plaasgevind by 'n woning in Uitbreiding 6 waar die vroue 'n woonstel op die perseel deel.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie het twee verdagtes toegang tot die woonstel verkry deur 'n klein venstertjie in die voordeur uit te kap, waarna hulle die deur van binne af met die sleutel oopgesluit het.
Nadat hulle toegang tot die woning verkry het, het hulle die vroue met 'n hamer gedreig en het 'n plasmaskerm-televisie asook 'n selfoon wat besig was om te laai, gebuit.
Volgens die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, kapt Wollie Fourie, het die vroue se geskree die mans eindelik op die vlug laat slaan.
Die saak word ondersoek deur ao A Stokes van die Da Gamaskop-speurafdeling.
Enige persoon met inligting kan haar kontak (044 606 2200).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroee nuus'