MOSSELBAAI NUUS - Die 56-jarige bestuurder van 'n gastehuis in Hartenbos is erg getraumatiseer nadat sy Saterdagmiddag, 13 Oktober omstreeks 16:30 deur 'n onbekende man verskeie steekwonde toegedien en ook aan die oor gebyt is tydens 'n huisrooftog.
Volgens die Da Gamaskop-polisie se kommunikasiebeampte, kapt Wollie Fourie was die vrou, wat die gastehuis namens haar suster bestuur en in 'n woonstel op die perseel bly, in die gastehuis doenig toe sy skielik opkyk en 'n onbekende man voor haar sien staan.
Hy het glo toegang tot die perseel verkry deur 'n oop skuifdeur. Die vrou het die verdagte man glo by die skuifdeur probeer uitstamp en sodoende die boosdoener probeer uitsluit, toe die man 'n vurk gryp en haar herhaaldelik daarmee begin steek.
Tydens die struweling het die verdagte ook glo die vrou se oor bykans afgebyt.
Die verdagte het op die vlug geslaan met 'n kontantbedrag, die vrou se handsak, selfoon en beursie.
Die getraumatiseerde vrou het hierna haar suster gebel. Die polisie asook die buurtwag is geaktiveer.
"Ongeveer 'n uur later is 'n 32-jarige man op die strand tussen Hartenbos en Bayview, onderweg na Mosselbaai, deur lede van die buurtwag gearresteer. Hy is aan lede van die Langeberg K9 honde-eenheid oorhandig," berig kapt Fourie.
Kaptein Fourie het die buurtwag geloof vir hulle goeie werk en ook gesê dat dit weer eens bewys lewer van die effektiwiteit van 'n aktiewe buurtwag.
'n Saak van huisroof word deur ao Richard van Eyck van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'