MOSSELBAAI NUUS - Ten spyte van vele patrollies en suksesse behaal in Julie, is daar 'n aansienlike toename in rooftogte in die Da Gamaskop-polisie se bedieningsarea.
Die stasiebevelvoerder van die Da Gamaskop-polisie, kol Mark Hartzenberg, bedank egter die buurtwag vir hulle volgehoue aktiewe deelname in die stryd teen misdaad.
Areas wat steeds problematies blyk te wees is die kloof tussen Uitbreiding 8 en 13, die bospaadjies tussen die Luthuli-woongebied en Uitbreiding 8, Alhof- en Bill Jeffery-rylane, die voetpad tussen die JCC-woongebied en Louis Fourieweg, asook die Blue Waters-omgewing en Diasstrand-rotsgebied.
Wenke
"Vermy die voetpaaie veral vroegoggend en saans. Vroue word veral versoek om liefs in groepe te beweeg. Moenie met oorfone in jou ore loop nie.
"Bly te alle tye waaksaam van bewegings van verdagte persone. Goedere wat veral geroof word is selfone, kontant en ook klerasie. Rapporteer enige voorvalle onmiddellik en wees daarom veral bedag daarop om oortreders te kan uitken," waarsku kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'