MOSSELBAAI NUUS - Die toename in sekere tipes misdaad, veral besigheidsrooftogte in die industriële gebied in Voorbaai die afgelope jaar, is onrusbarend.
Boonop, aldus die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, kaptein Wollie Fourie, dui dit op 'n definitiewe leemte in die beveiliging van die gebied wat dringende aandag verg.
Hierdie kommentaar volg op die mees onlangse besigheidsrooftog wat Saterdag, 4 November helderoordag by Primagas, in Voorbaaisingel plaasgevind het.
Dit, net meer as 'n maand na die Mosselbaai Bakkery op Sondag, 24 September die slagoffer van 'n gewapende rooftog was.
'Ses minute, in en uit'
Tydens Saterdag se rooftog, het twee onbekende mans net voor toemaaktyd omstreeks 11:45 die onderneming binnegekom, aldus een van die twee werknemers wat die voorval beleef het.
Net twee werknemers werk op Saterdae aangesien dit normaalweg 'n stil dag is, het een van die werknemers by navraag bevestig.
"Die mans het 'n swart rugsak en 'n geroeste gasbottel by hulle gehad," vertel die 21-jarige man wat verkies om anoniem te bly.
"Sy kollega het die gasbottel by een van die verdagtes geneem waarna die ander man 'n vuurwapen uit die rugsak gehaal het.
"Hulle het ons beveel 'down, down' en het my kollega met cable ties vasgemaak.
"Hulle het my nie vasgemaak nie en self die geld uit die kasregister gehaal."
Hierna het die verdagtes aangedring om na die kluis geneem te word en het daar ook geld geneem. 'n Aansienlike kontantbedrag, 'n selfoon en 'n horlosie is geroof.
"Hulle wou ons in 'n kamertjie toemaak, maar het gesukkel met die deur en toe my ook met cable ties vasgebind. Toe het hulle rustig uitgestap. Dit was ses minute, toe is hulle in en uit."
Danie Hoffman, eienaar van Mosselbaai Bakkery het hierdie presiese woorde gebruik in 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser nadat sy onderneming op 24 September beroof is (Mosselbaai loop onder misdaad deur, Mossel Bay Advertiser, 29 September 2017).
Lede betrokke by die in hegtenisneming van 'n 55-jarige verdagte wat moontlik met die rooftog by Primagas verbind kan word. Kaptein Virgil Julius, sersante Debbie Matthee, Sharaden Boesak, konstabels Thandokazi Venkile, Likhaya James en Sindiswa James.
Moontlik dopgehou
Videomateriaal verkry vanaf die kamera op die perseel toon die verdagtes duidelik sodat gesigsamestellings gou gedoen kon word.
Die verdagtes het glo met 'n wit VW Golf van die toneel gevlug. Na bewering was daar 'n derde verdagte wat die voertuig bestuur het.
Daar word beweer dat die voertuig vroeër die week verskeie kere in Voorbaaisingel opgemerk is deur ander partye wat ook besighede daar het.
'n Oplettende lid van die publiek het inligting aan die Da Gamakop-polisie verskaf rakende die verdagte voertuig wat daartoe gelei het dat 'n 55-jarige man Sondag in verband met die rooftog in hegtenis geneem is.
Hierdie gesigsamestellings beskryf twee verdagtes wat 'n rooftog by Primagas in Voorbaai uitgevoer het. Enige persoon met inligting rakende hulle identiteit, kan die ondersoekbeampte ao A Stokes kontak (044 606 2200).
"Danksy die inligting verskaf deur 'n lid van die gemeenskap, toevallig ook 'n buurtwaglid, is die verdagte voertuig geëien toe dit verby die Da Gamaskop-polisiestasie gery het Sondagmiddag omstreeks 16:30.
"Lede van die A-skof het die voertuig agternagesit, 'n man in hegtenis geneem en daar is op die voertuig beslag gelê," berig kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
Die saak word ondersoek deur ao A Stokes van die Da Gamaskop-polisie.
Samewerking krities
Kaptein Fourie het lede van die publiek aangemoedig om tegnologie te gebruik om inligting aan die polisie te verskaf.
"As jy iets verdag bemerk, neem 'n foto met jou selfoon en verskaf dit aan die polisie. Dit kan belangrike inligting wees."
Hy het ook, in die lig van die onlangse rooftog, weer eens genoem dat die ontstaan van 'n besigheidswag in die Voorbaai-gebied van uiterste belang is.
"Ten spyte van vele pogings en versoeke, is daar steeds 'n groot leemte wat aanleiding gee tot 'n toename in misdaad."
Ook die Mosselbaai-munisipaliteit het die bekamping van misdaad in die Voorbaaigebied hoog op die agenda.
'n Vergadering tussen die munisipaliteit en verteenwoordigers van besighede in Voorbaai is geskeduleer vir 14 November om 14:00.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'