MOSSELBAAI NUUS - Hoewel die klowe by Mzamomhlestraat en Queenstraat KwaNonqaba in 2017 deur die munisipaliteit skoongemaak is, is dit reeds weer verstop van rommel en vullis wat veral by stormwaterduikers ophoop.
Omgewingsbewuste inwoners het hul kommer uitgespreek oor die effek van die vullis op afloopwater wat via die stormwaterstelsel in die see kan beland.
Die Mossel Bay Advertiser het onlangs by herhaling berig oor die gevare van rommel wat in stormwaterpypleidings beland en tot verstoppings aanleiding gee.
Pertinente vrae oor die verwydering van opgehoopte rommel is aan die munisipaliteit gerig.
Volgens inwoners kry hulle nie swartsakke vir vullisverwydering nie.
Dit is nie waar nie. Gratis swart sakke word op een van drie maniere versprei.
Die wyksraadslid kry groot hoeveelhede sakke en deel dit self, of met die hulp van die wykskomitee aan die inwoners uit.
Meestal word een sak per week per huishouding uitgedeel, maar dit reël die wyke self.
Andersins lewer die munisipaliteit sakke af. Daarbenewens is 'n kontrakteur aangestel wat die area diens en wat in terme van die kontrak sakke moet uitdeel.
In dié spesifieke gevalle word sakke op twee maniere versprei. Van die genoemde strate word deur 'n diensverskaffer gediens wat weekliks daar vullisverwydering doen. Hy versprei ook sakke tegelykertyd wat die munisipaliteit sakke uitdeel.
As die munisipaliteit klagtes ontvang van die publiek dat hulle dalk nie sakke gekry het in die areas wat die diensverskaffer diens lewer nie, word dit deurgegee en lewer die kontrakteur dan daar af.
In die Queenstraat-omgewing in Sone 7, KwaNonqaba, kla inwoners dat varke gereeld van die rommel in die sloot vreet. Foto: Nickey le Roux
In van die ander gebiede word die gratis sakke aan die wyksraadslede gelewer en het ons skriftelike bewyse dat dit gedoen is.
Hoe die wyksraadslede dan verder die sakke versprei, is 'n reëling wat hulself tref.
Die wyksraadslede versoek meer sakke as hulle vind daar is nie genoeg nie. Hulle ontvang dan meer en die getalle word vir die volgende aflewering aangepas.
Die munisipaliteit is tans weer besig om gratis sakke vir hierdie kwartaal te versprei.
Die raadslede en gemeenskap wat om welke rede dalk nie sakke ontvang het nie, kan die vullisverwyderingskantoor kontak en self sakke afhaal.
Daar is geen vullishouers waarin vullis gegooi kan word nie?
Daar is skips op sekere plekke. As daar 'n behoefte vir nog skips is, word daarvoor aansoek gedoen. Dit word gratis beskikbaar gestel en gereeld gediens.
Dit is verontrustend dat die vullis akkumuleer in stormwaterafvoere.
Die vullis (in die foto's) is die gevolg van onwettige stortings.
Daar is die KwaNonqaba-oorlaaistasie waar vullis gestort kan word en daar is ook vullisverwydering wat in die area gedoen word op 'n weeklikse basis.
Verder is daar skips in die omgewing wat ook gebruik kan word en daar is ook formele vullishokke wat vir die doel opgerig is om vullis te stoor wat gebruik kan word.
Daar is beslis moedswillige storting in die stormwaterlyne en dan is daar ook die onwettige storting, soos hierdie, wat die probleem vererger.
Is die munisipaliteit bewus van die omstandighede?
Die munisipaliteit is bewus van probleme in die area. Daar was al skoonmaak-aksies in dié spesifieke areas en ons is reeds in proses om die volgende aksies te loods.
Die bestelling is reeds op 15 Februarie uitgereik en die diensverskaffer is besig met die afhandeling van sy logistiese en ander reëlings.
Die volgende skoonmaakaksie sal op 26 Februarie begin.
Daar vind ook op gereelde basis opvoeding- en bewusmakingsessies plaas dwarsdeur die hele munisipale area ten opsigte van onwettige storting, herwinning, en dies meer.
Omgewingsbewuste inwoners spreek hul kommer uit oor die effek van die rommel op die kwaliteit van die afvoerwater wat uiteindelik in die see beland. Foto: Nickey le Roux
Word die opeenhoping van die vullis as 'n gemeenskapsrisiko geag? Indien wel, wat doen die munisipaliteit om die risiko aan te spreek?
Gesondheid is 'n funksie van die Eden-distriksmunisipaliteit en probleme word gepas deurgegee.
Die onderskeie munisipaliteite werk saam en ondersteun mekaar om probleme aan te spreek.
Word die vullis as 'n omgewingsgevaar beskou, in ag genome dat die rioolvuil en ander vullis in die klofies opgaar waardeur water uiteindelik die see bereik?
Dit is beslis 'n omgewingsgevaar.
Wat doen die munisipaliteit om die gemeenskap op te voed en aan te moedig om vullis verantwoordelik weg te maak?
Daar word dwarsdeur die munisipale area in die gemeenskappe self, asook by hoër-, laer- en kleuterskole gereeld opvoedings- en bewusmakingsprojekte aangebied. Wykskomitees word ook betrek.
Die munisipaliteit het verlede jaar opleiding aan verskeie onderwysers regoor die munisipale area gegee, wat weer op hulle beurt die boodskap in hulle onderskeie skole op 'n deurlopende basis onder die kinders moet tuisbring.
Dit gebeur soms dat 'n probleemarea pragtig skoongemaak word en die omliggende inwoners het 'n volledige, skriftelike kennisgewing per hand afgelewer kry.
Rommel en vullis stort uit by 'n stormwaterduiker naby Mzamomhlestraat. Foto: Nickey le Roux
Tog, ten spyte daarvan word daar nadat daar so mooi skoongemaak is net weer 'n hoop vullis gestort, net die volgende dag.
Die munisipaliteit hou aan skoonmaak en, hoe meer opgeruim word, hoe meer word daar onwettig gestort.
Dit kos die munisipaliteit 'n aardige bedrag (soos al in 'n berig in die Advertiser ook genoem is).
Daar is verskeie argumente aangevoer waarom die gemeenskap nie groter verantwoordelikheid neem vir vullisverwydering nie.
Mense se hul erf is so klein, dit het nie nog plek vir 'n asblik nie; of dis net makliker om die vullis oor die muur of in die straat of te gooi, solank dit net weg is van my af.
Ander is bang hul vullishouer word gesteel as hulle dit in die straat sou sit wanneer vullis verwyder word.
Ander meen wanneer hulle 'n swartsak uitsit, word dit net een keer per week verwyder.
Wanneer hulle vullis in die straat gooi, is daar daagliks iemand wat dit skoonmaak.
Sommige inwoners meen vullisstrooi is werkskepping, en die munisipaliteit betaal mos daarvoor.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'