MOSSELBAAI NUUS - Romeo Wagner se woorde aan homself toe hy te midde talle struikelblokke aan die South African Championships of the Performing Arts (SACOPA) deelneem, was dat as daar nie dié keer iets gebeur nie, hy gaan ophou dans.
Romeo is 'n bekende en talentvolle danser en choreograaf wat talle plaaslike kompetisies gewen, verhoë met bekendes gedeel het en ook as beoordelaar in danskompetisies opgetree het.
Nou, na sy tuiskoms vanaf SACOPA het hy nie net drie goue medaljes in die sak nie, maar is hy gekies om Suid-Afrika as deel van die SACOPA-span in die VSA te verteenwoordig.
'Onbeskryflik'
Hy het geen formele dansopleiding nie. Hy kan ook nie met sekerheid sê wanneer presies hy begin dans het nie, maar volgens sy ouma is dit sedert sy kleuterdae.
"My ouma sê ek was altyd die klonkie wat tussen die grotes gedans het. Dan gooi ek my neer en ek gooi my lyfie so en so." Toe reeds, verduidelik hy, was hy terdeë bewus van hoe om te dans hom laat voel het.
"Dis onbeskryflik, daar's net geen woorde nie."
Op hoërskool het musiek sy liefde vir dans weer laat blom. Die dansfliek, You Got Served het hom laat wonder of daar nie tóg 'n toekoms in dans lê nie en hy het besluit om hom op hierdie stokperdjie toe te spits. Sy dansoptredes het hom egter gou laat besef dat hy 'n bepaalde effek op sy gehoor het en jy hoef Romeo ook net een keer te sien dans om te besef dat hy geen hierjy is nie.
Tóg het hy besef dat, al is sy naam as danser bekend genoeg om hom plaaslik amper beroemd te maak, hy vooruit moet dink. "Ek het al die foto's saam met bekendes, maar dit was nie genoeg van 'n platform vir my drome nie. Dit moet ook finansieel die moeite werd wees. Nou, danksy die kompetisie kan ek my talent vir die wêreld gaan wys."
Struikelblokke
Vir die SACOPA-kompetisie het hy alles ingesit, fisies en emosioneel. Die deelname was ook nie maklik nie. Finansies was 'n uitdaging.
"Ek kon my verblyf dek, maar daar was tye in daardie twee weke wat ek maar met 'n leë maag geloop het.
"Ek was alleen, maar tog nie. God het my geseën, my gevul waar ek leeg was en my natgemaak waar ek droog was."
Die aankondiging dat hy die nasionale span gehaal het, het hom amper in trane gehad.
Sy styl verduidelik hy, is so divers moontlik.
"Ek is 'n freestyler. Ek dans op enigiets, noem dit en ek sal my styl daarby aanpas." Die groot uitdaging tans is om weer nuut en kreatief te dink oor sy volgende SACOPA-deelname in Amerika volgende jaar.
Hy sê 'n suksesvolle danser kan baie dinge wees, maar die belangrikste ding van dans is dat die gevoel, emosie en boodskap van dit wat jy dans, deur die gehoor ervaar moet word.
"Dit gaan nie net oor musiek of die bewegings nie. As jy dít kan verstaan, hoef jy nie al hierdie mal moves te maak as jy dans nie."
Wanneer hy nie choreografeer en oefen nie, bied hy mentorskap aan die jeug in sy omgewing. Hy was skaars by die huis na sy deurnagreis per bus, toe kom soek die jonges hom al.
"Hulle was nou net hier en het kom roep na my," lag hy. Hy glo opbouende kritiek is die beste manier om 'n danser te vorm, want een verkeerde woord, kan alles verongeluk.
En niemand gaan nou sy kanse verongeluk nie. Romeo gaan die ding laat ruk - van Rustenburg tot in Los Angeles.
Romeo sal eersdaags met sy fondsinsamelingsoptredes begin. Volg hom gerus by https://www.facebook.com/romeowagner.romeo
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'