MOSSELBAAI NUUS - Die bouvallige struktuur wat eensaam teen die koppie op Louis Fourieweg sit, net onderkant een van Mosselbaai se meer berugte woongebiede naby Diasstrand, het dalk binnekort 'n effens meer glansryke status.
Dít omdat die plaaslik bekende rockgroep die murasie gebruik het as die agtergrond vir die verfilming van hulle jongste musiekvideo.
Volgens sanger en liedjieskrywer van die groep, Leon van Rensburg het die musikante hulle egter nie blindelings in die onlangse skietery begeef nie.
Gedagtig daaraan dat die bouval in een van Mosselbaai se misdaadbrandpunte geleë is, het hulle darem eers seker gemaak dat hulle veilig is.
Een van Mosselbaai se sekuriteitsfirmas het drie wagte beskikbaar gestel om seker te maak dat die rockers al die nodig skote kon inkry.
"Ons is dankbaar vir plaaslike besighede wat ons plaaslike kunstenaars so heelhartig ondersteun," sê Van Rensburg.
Oor die liedjie sê hy tans nie te veel nie behalwe dat die titel Hold on is en dat dit binnekort saam met die groep se Engelse album vrygestel sal word.
Die murasie op Louis Fourieweg, naby Diasstrand.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'