MOSSELBAAI NUUS - Wat is tog in ‘n naam? ‘n Goeie naam leef vir altyd voort.
Dit is veral waar as ‘n mens kyk na die Robinsonpas op die R328-roete tussen Mosselbaai en Oudtshoorn wat amptelik op 4 Junie 1869 geopen is.
Hierdie Saterdag, 1 Junie word die pas se 150ste verjaarsdag met ‘n heerlike makietie by die Ruiterbosch Lodge gevier en almal word genooi om in die feesvieringe te deel.
Die pas met sy swiepende draaie en ongelooflike uitsigte het die binneland vir die inwoners van die Suid-Kaap geopen en is vernoem na ‘n voormalige inspekteur-generaal van paaie, mnr MR Robinson.
Die eerste pas oor die Outeniquaberge was die Montagupas (1848), maar die inwoners van die hawedorp Mosselbaai het al meer begin brom oor die lang ompad wat hulle moes ry (met waens en perdekarre) om by Oudtshoorn, wat in daardie jare ‘n vooruitstrewende dorp te midde van die volstruisbedryf was.
Die ou Attaquaspas, wat die eerste outobaan na die noorde was, was nog steeds die hoof-toegangspad van die kus na die Karoo. Hiermee tesame was die moeilik gangbare en haas ontoeganklike tweespoor Ruiterboschpas wat die laer dele van die berg ontsluit het.
Thomas Bain
Die padowerhede het die wêreldbekende Thomas Bain, wat toe pas die manjefieke Prince Alfredpas noord van Knysna voltooi het, genader om sy geoefende oog oor die ruwe terrein te gooi. Bain het besluit om beide die bogenoemde paaie plus ‘n paar nuwe gedeeltes te gebruik om die eerste behoorlike Robinsonpas te bou.
In 1858 het die Mosselbaai Raad die inwoners van Oudtshoorn genader om ‘n bydrae tot die geraamde koste van 10 000 pond vir die bou van die pas by te dra. Die Oudtshoorniete het laat weet hulle het nie geld nie en in 1860 het die Koloniale Kantoor 2 000 pond bewillig as Mosselbaai en Oudtshoorn die res bydra. Om die pas ‘n werklikheid te maak, het Mosselbaai toe maar die res van die rekening betaal.
Deur die jare is die pas herbou en dele makliker rybaar gemaak om dit die pragtige en veiliger pas wat ons vandag gebruik, te maak. Dit het ook bekend geraak as een van die Suid-Kaap se top bergpasse.
Bykans 60 jaar gelede (4 Maart 1961) is die geteerde pad deur dr Nico Malan, destydse administrateur van die Kaap, geopen.
Interessante name van plekke langs die pas sluit in Haarnaalddraai, Outol (waar die ou tolhek was en wat ‘n baie gewilde uitspan- en piekniekplek was), Bronsedraai, Groenpunt, Swaardraai, Karoonek en Die Stasie.
Deur die jare was daar ook heelwat legendariese persone wat deel van die pas uitgemaak het. Een van hulle, oom Tolletjie, Hendrik (Hennie) Boshoff (1916-1917), ‘n skoenmaker, moes tender om die betrekking as tollenaar te kry. Hy is die oupa van Elsie Rademeyer en Helgard Muller wat vandag nog in die kontrei bly.
Amptelike opening
‘n Voormalige raadslid van Mosselbaai, mnr Jim van der Merwe (wat Dinsdag 28 Mei sy verjaarsdag by Ruiterbosch Lodge gevier het), was 15 jaar oud toe die geteerde pas geopen is. Hoewel hy nie die amptelike opening bygewoon het nie, onthou hy die ou grondpad wat hy as uiters gevaarlik beskryf. Die pad was baie nou en die dik mis, wat vandag nog ‘n kenmerk van die pas is, het die toestande vererger.
Die feestelikhede 150 jaar gelede het reeds die dag vantevore begin toe die Mosselbaaiers in massas met hul waens en perde die tog na die pas aangedurf het. Reëlings is getref vir hulle om op plase in die omgewing oor te bly en om 08:00 op Saterdag, 4 Junie het die waens en ryers van oraloor bymekaargekom om die groot feesparade te vorm.
Onder ‘n reuseboog oor die pad, met die woorde,’n Goeie Naam Leef Voort het die seremoniemeester, mev Wyldie Helm, haar misnoeë uitgespreek dat daar nie ‘n dansparty gereël is om hierdie geskiedkundige gebeurtenis, wat die nuwe poort na die noorde geopen het, te vier nie. Selfs nie eers die geborge vonkelwyn kon help om haar beter te laat voel nie.
Saterdag
As deel van die herdenking van hierdie geskiedkundige feesparade, sal daar Saterdag ook ‘n parade van veteraanmotors en -trekkers uit die pas wees. Die optog eindig dan by Ruiterbosch Lodge waar die makietie met stalletjies, kunstenaars en aktiwiteite sal plaasvind.
Kontak Louise Nel (082 557 6619) vir meer inligting en besprekings.
Goeie nuus vir al die feesgangers Saterdag is dat daar hierdie keer wel ‘n dans gereël is. Die mandjiedans (bring jou eie versnaperinge saam) beloof om ‘n belewenis te wees met musiek wat deur die Donkiekarkêrels en Sam & Calla verskaf sal word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'