Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Terwyl ‘n paar Kaapse pelsrobbe rustig by die Punt op Mosselbaai lê en slaap in die water, het ‘n sub-antarktiese pelsrob wyfie (arctocephalus tropicalis) besluit die loopvlak langs die huise by die Punt is baie geriefliker en warmer as om tussen die rotse te vertoef.
Volgens Louis Steyn van die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T), is hy en kollegas Carli Scheepers en Annelize Booysen reeds vroeg Dinsdag, 23 Mei, na die toneel ná hulle gekontak is.
Hulle het haar met moeite na die rotse verskuif terwyl sy geen agressie getoon het nie.
Volgens Steyn het sy geen beserings nie en het net gerus. Hulle kan ‘n paar dae so rus op land voor hulle weer terug see toe gaan om te jag. Net soos honed, katte en ander soogdiere, is hulle landdiere. Dié robbe swem so ver as 6000km en kom voor in die Indiese, Stille en Atlantiese oseane en is kleiner as die ander pelsrobbe. Mannetjies kan so lank as twee meter word en tot 160kg weeg. Die wyfies is heelwat kleiner teen 1,4 meter en 50kg.
‘n Hele aantal toeskouers het die rob van naderby besigtig terwyl sy luilekker in die sonnetjie ‘n uiltjie knip.
Die publiek word gevra om nie robbe terug die see in te jaag as hulle kom rus nie, maar eerder met S.M.A.R.T. in verbinding te tree indien dit blyk daar mag beserings wees. Die nommer is (072 227 4715).
Video - Sub-antarktiese pelsrob kuier luilekker in Mosselbaai (Video: Jannie du Plessis).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’