Gallery Video
GROOK-BRAKRIVIER NUUS - Die Groot-Brakriviermonding is nou oop nadat water uit die Wolwedansdam vrygelaat is om die rivier deur te breek na die see toe.
Die Mosselbaai-munisipaliteit is sedert verlede week besig om met stootskrapers en laaigrawe die sandbanke gelyk te maak en om van die sand weg te ry.
FOTOGALERY: Groot-Brakriviermonding breek deur na die see toe
Verskeie omgewingsfaktore word in ag geneem om te bepaal wanneer die rivier deurgebreek moet word. Die optimale tyd is tydens springgety, omdat wisselwerking met die getye noodsaaklik is om die gewenste effek te kry. Verskeie lesers het gekla oor die "vermorsing" van water tydens die droë omstandighede wat die gebied tans ondervind. Hulle het ook beweer dat die riviermonding net oopgestoot word om vakansiegangers gelukkig te hou.
Belangrike broeiplek vir visse
Mossel Bay Advertiser het gaan kers opsteek by Henry Taylor van SERAG (Southern Estuarine Rehabilitation Action Group) wat saam met die Mosselbaai-munisipaliteit en ander belangegroepe verantwoordelik is vir die ekologiese gesondheid van die riviermondings. Volgens Taylor is die riviermond (ook estuarie genoem), 'n belangrike broeiplek vir visse wat tydens die dag-en-nag-ewening vanuit die see na die rivier beweeg om dan in die veiligheid van die rivier te broei.
Die Wolwedansdam is sowat 30 jaar gelede in die afwaartse vloei van die rivier gebou en sodoende is die natuurlike vloei van die rivier na die see geblokkeer. Dit lei tot die opbou van sand wat met die rivierstroom afbeweeg en van die see se kant ook deur die see ingestoot word. Dit het tot gevolg dat die riviermonding mettertyd heeltemal toeraak.
Taylor vervolg: "Dit beteken dat die noodsaaklike wisselwerking tussen die rivier wat stilstaan en vars seewater wat van die see inspoel, nie plaasvind nie. Die gevolg is 'n stagnante rivier wat in 'n baie swak ekologiese toestand is en waar die vissies nie kan uitbroei nie."
Die oopmaak van die riviermonding vind gewoonlik rondom September plaas, maar weens die min reën en die swak natuurlike vloei van rivierwater het dit vanjaar weer toegespoel.
Daar word gehoop dat die goeie reën hierdie week sal help om die riviermonding oop te hou en om die rivier se ekologie 'n kans tot herstel te gee.
SUPPLIED VIDEO - Great Brak River Estuary: Reopening of the River Mouth (Video: Kaap Kaleidoskoop).
Dié foto van die riviermonding wat gedeeltelik oopgespoel het, is Dinsdag, 12 Desember geneem.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'