MOSSELBAAI NUUS - Die publiek word gewaarsku om liefs in die afsienbare toekoms geen watersport in óf die Bayviewrivier, óf die Hartenbosrivier te beoefen nie.
Hierdie waarskuwing volg op kommer oor die waterkwaliteit van beide riviere.
Bayviewrivier
Daar is in die onlangse verlede by herhaling klagtes oor onaangename reuke in die Bayviewrivier ontvang.
Die munisipaliteit het gevolglik onlangs weer watermonsters geneem en die waterkwaliteitstoetse het bevestig dat die sterk reuke wel van die rivierwater afkomstig is, waarskynlik weens die oormatige ophoping van organiese materiaal in die sediment.
Gevolglik is die riviermonding oopgemaak met die hoop dat die jongste goeie neerslae en onstuimige seetoestande sou bydra om die waterkwaliteit te herstel.
Hartenbosrivier
By die Hartenbosrivier, daarenteen, blyk dit dat 'n kwaadwillige storting van riool in die rivier tot die jongste probleme aanleiding gegee het.
Waterkwaliteittoetse dui op onsuiwerhede veral by die Oupadbrug, Sewendedag Adventiste-area, die treinbrug en riviermonding.
Mosselbaai-munisipaliteit se omgewingskundige, Warren Manuel, berig dat geen stortings vanuit die rioolnetwerk aangemeld is nie.
Die vermoede bestaan dus dat kwaadwillige storting tot die jongste waterkwaliteitsprobleme aanleiding kon gee.
ie omgewingskundige van die Mosselbaai-munisipaliteit, Warren Manuel, het onlangs watermonsters van die Bayviewrivier geneem en moniteer sedertdien deurgaans die waterkwaliteit.
"Ek doen 'n beroep op veral oewerbewoners, maar ook die breër gemeenskap, om enige verdagte optrede langs die rivier onmiddellik te rapporteer sodat boosdoeners vasgevat kan word," het die munisipale woorvoerder, mnr Colin Puren, genooi.
Hy nooi inwoners om hom direk te kontak (084 510 4614) as verdagte optrede opgemerk word.
Die Hartenbosrivier Forum het intussen 'n dringende vergadering met alle belanghebbendes vir 27 November beroep sodat oor die korrekte werkswyse om die waterkwaliteitsprobleem aan te spreek, besin kan word.
Die munisipaliteit benadruk dat beide situasies deurlopend gemonitor word en dat 'n besluit oor enige verdere stappe, indien en soos nodig in oorleg met die relevante ander staatsdepartemente geneem sal word.
ARTIKEL & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'