Update
BRANDWAG NUUS - Die 55-jarige man wat op Donderdag 19 Maart op die R328 naby Brandwag in ’n motorfietsongeluk dood is, is intussen as Eugene Theron, ’n inwoner van Brandwag, geïdentifiseer.
Die Suid-Kaap Polisie se woordvoerder, AO Chris Spies, sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat Theron in die rigting van Brandwag gery het toe sy motorfiets teen 'n bees wat oor die pad geloop het, gebots het.
Sy vrou, Chantel, was agterop die motorfiets en is in die ongeluk beseer. Sy is vir mediese behandeling na ’n hospitaal in George geneem.
Eugene se ma, Hester Jongbloed, het die afgelope week met Mossel Bay Advertiser oor haar seun se dood gepraat.
“Eugene was in sy lewe een van die eerlikste mense op aarde. Kunstig, vreeslik noukeurig, ’n regte kunstenaarstemperament en ’n goeie mens wat ’n groot liefde vir diere gehad het.”
Hy het dit geniet om houtwerk te doen en het graag glasprojekte saam met sy ma voltooi.
Eugene was ’n voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Polisie en het later in die bootboubedryf in Mosselbaai gewerk.
Jongbloed sê dat Euguene heelwat emosionele pyn deur sy lewe verduur het, insluitende die verlies van sy broer, Auwke, in 1996. Auwke was ook ’n motorfietsryer en is ook in ’n ongeluk oorlede.
“Eugene het dit moeilik gevind om sy broer se dood te verwerk, maar het by die Christelike Motorfietsryersvereniging [CMA] in Pretoria aangesluit, waar sy liefde vir motorfietse en sy vriendekring uit CMA-mense - mense van geloof - bestaan het,” sê sy.
Eugene word deur sy vrou, sy ma, sy stiefma, Marieta, en drie stiefbroers oorleef.
“As jou moeder is ek tevrede om te weet jy rus nou by ons Vader, weg van seerkry. Rus in vrede, my liefste seun,” sê Jongbloed.
Die Da Gamaskop-polisie ondersoek intussen ’n saak van strafbare manslag.
Jongbloed sê die familie respekteer Eugene se wense dat geen formele begrafnis vir hom gehou sal word nie.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’