MOSSELBAAI NUUS - Na aanleiding van klagtes oor oorvloei uit die pompstasie op die strand by Eerstestrand, Danabaai, het beide die burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuurdienste, raadslid Anton Dellemijn en die direkteur van infrastruktuurdienste, direkteur Dick Naidoo 'n besoek aan die gebied gebring.
Volgens Naidoo vind oorvloei vanaf die pompstasie slegs tydens langdurige beurtkragperiodes plaas.
"Gebaseer op die stoorkapasiteit van die rioolput, word dit beraam dat die riool tydens spitstye op die strand kan oorloop in die geval van 'n kragonderbreking van twee uur of langer.
"Die munisipale omgewingsdienstespan neem gereeld monsters en volgens terugvoer was al die monsters vir Danabaai Eerstestrand binne die aanbevole raamwerk. Die resultate was 171/250. Sodra die resultate meer as 250/100 ml is, voldoen dit nie aan standaarde nie. Tans dui die monsters dus aan dat dit nie nodig is om die strand te sluit nie."
Direkteur Naidoo berig dat die munisipaliteit intussen gereël het dat die stormwaterspan die pypleidings tussen die parkeerarea by P.Cynaroidesstraat en die strand sal skoonspoel.
"Ons verwag die aflewering van 'n bykomende vakuumtenkwa teen die einde van Februarie 2023, wat as 'n tussentydse reëling beskikbaar gestel sal word om oorvloei by die pompstasie te voorkom soos en wanneer nodig. 'n Groter kragopwekker sal voorsien word sodra dit beskikbaar is," aldus Naidoo.
REGS: Foto's van riool-oorloop op Eerstestrand, Danabaai is deur Bernard Cayton aan die Mossel Bay Advertiser gestuur.
Die foto van riool-oorloop op Eerstestrand, Danabaai is deur Bernard Cayton aan die Mossel Bay Advertiser gestuur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'