Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Minder as 'n week nadat die Mosselbaai-munisipaliteit as deel van die strategiese doelwit om Mosselbaai te vergroen 100 bome in Hersham geplant het, is 'n ikoniese wildevyeboom in Kerkstraat besig om dood te gaan as gevolg van vergiftiging.
In September was dieselfde boom in die nuus toe 'n onbekende man wederregtelik van die boom se takke afgekap het.
FOTOGALERY: Ikoniese wildevyeboom se tragiese einde
'n Byl en 'n saag is deur munisipale wetstoepassers op die toneel gevind en as bewysstukke aan die polisie oorhandig.
'n Kriminele saak word in die verband ondersoek.
'n Span van die Mosselbaai-munisipalteit het gaan ondersoek instel toe dit verlede week gelyk het asof van die boom se takke besig is om dood te gaan. By nadere ondersoek is vasgestel dat die boom se stam vol gate geboor is. Dit lyk ook asof daar diesel in die gate gegooi is in 'n poging om die boom te vergiftig.
"Dit is absolute waansinnigheid om 'n erfenisbate so te wil vernietig. Persone wat so iets doen, het geen selfrespek nie, wat nog te sê van respek vir die natuur en bome soos hierdie wat geslagte lank reeds bestaan. Ons doen 'n beroep op die gemeenskap om onmiddellik aan die owerhede te rapporteer, indien hulle die kwaadwillige beskadiging van bome bespeur."
Wyksraadslid Lodewyk Coetzee, in wie se wyk die boom staan, het verduidelik dat die boom volgens ou foto's van Mosselbaai reeds vir dekades al deel van die toneel in Kerkstraat is.
"Die boom is minstens meer as 60 jaar oud. Voorheen het Kerkstraat reguit teen die kop op geloop waar Andrew Josstraat tans is. Toe Kerkstraat verlê is, is dit rondom die wildevy gedoen. Die boom is ook destyds toe daar nog 'n busdiens in Mosselbaai geloop het, as 'n bushalte gebruik. Mosselbaai se sakekern is eintlik die groen long van ons dorp. Dit is skokkend dat 'n lid van ons gemeenskap 'n erfenisbate so wil vernietig."
Amptenare van die parke-afdeling het kenners genader om die boom te probeer red. Dit is egter nie bekend hoeveel diesel in die boom gegooi is nie. Die gate is intussen toegemaak om te verhoed dat boosdoeners die boom verder vergiftig en die boom se toestand word tans gemonitor.
Volgens die parke-afdeling raadpleeg die munisipaliteit tans kenners by die department van omgewingsake vir raad om te bepaal wat gedoen kan word om die boom te red. Daar word egter gevrees dat ons die boom in sy geheel gaan verloor.
Die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé het die voorval veroordeel.
"Gedrag soos hierdie staan direk in kontras met ons Groei-strategie wat juis die aanplant van bome in al ons wyke propageer. Ons kan nie toelaat dat hierdie positiewe bydrae tot ons dorp se toekoms deur lede van die publiek, vir welke rede ookal, gesaboteer word nie."
Die Mosselbaai-munisipaliteit het 'n bepaalde boombeleid waarvolgens opgetree moet word. Indien 'n boom op die sypaadjie staan en die takke versper sig of hang laag in die pad, kan die persoon die munisipaliteit versoek om daaraan aandag te gee.
Bome in privaat eiendom mag nie deur die munisipaliteit aan gewerk word nie, maar sou die boom se takke byvoorbeeld oor privaat eiendom se muur of oor 'n publieke pad hang, mag die takke tot teenaan die privaat eiendom teruggesnoei word.
Elke versoek word egter individueel in terme van die munisipale boombeleid hanteer.
Die gemeenskap kan versoeke in hierdie verband stuur na admin@mosselbay.gov.za
VERSKAFDE VIDEO:
Gate is in die boom se stam geboor en toe vol diesel gegooi om die boom te vergiftig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'