MOSSELBAAI NUUS - Die eienaar van die La-Belea Sportsbar, Bertram Braaf (47) wat op Donderdag, 16 Mei by die De Bakke-strandfront in 'n brand vernietig is, sê sy hart het in sy skoene gesak toe hy die oggend ná die brand vanaf Heiderand na De Bakke ry en die beskadigde struktuur vanaf die pad sien.
Die restaurant was skaars ses maande oop voor die grasdakrestaurant in die vroeë oggendure vlamgevat het. Die oorsaak van die brand word ondersoek.
"Ek het die oggend 'n oproep van een van my gereelde kliënte gekry wat vir my gesê het die restaurant het afgebrand. Ek het gedink hy maak 'n grap, maar toe hy sê daar is niks oor nie, het ek besef dit het regtig gebeur."
Die Mosselbaai-munisipaliteit besit die gebou en het dit aan Braaf verhuur. Die gebou is 'n bekende baken in Mosselbaai en was, na wat verneem word jare gelede 'n padkafee.
"Dit was my baba. Ons het pas toestemming gekry om slotmasjiene te installeer. Ons was baie opgewonde oor die restaurant se potensiaal en die groeikurwe die afgelope ses maande het aangedui dat ons besigheid klim." Braaf sê hy het geen idee hoe die brand ontstaan het nie.
"Ons het altyd seker gemaak dat die hoofskakelaars en oonde af is voordat ons die restaurant verlaat."
Volgens Braaf wil hulle graag weer in dieselfde gebou 'n restaurant open. "Ons wag nog op die munisipaliteit aangesien dit hulle eiendom is, maar ons huurkontrak duur nog vir 'n paar jaar so ek is tans onseker oor die pad vorentoe. Indien nie weer op dieselfde plek nie, sal ek elders op Mosselbaai voortgaan."
Braaf en sy vrou, Mariëtte het Mosselbaai as hul tuiste gekies omdat Mariëtte se familie ou Mosselbaaiers is. "Hulle het 30 jaar gelede as Hollandse immigrante in Mosselbaai kom vestig en het al die jare 'n besigheid op Mosselbaai gehad. Mariëtte is die dogter van die skeepskaptein Piet Bakker wat nog 'altyd weer wou terug see toe.'"
Hy sê die ses permanente werknemers by La-Belea is nou werkloos.
Die skade van die brand moet nog bepaal word, maar volgens Braaf het bykans alles in die slag gebly.
Bertram Braaf, eienaar van die restaurant en sy vrou Mariëtte Bakker. Bakker en haar familie is Hollandse immigrante wat 30 jaar gelede in Mosselbaai kom woon het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'