Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Garden Route DBV se Mosselbaai-tak het foto's aan die Mossel Bay Advertiser gestuur om te wys dat Rescue Rex, 'n Weimaraner-tipe hond wat in 'n skokkende toestand by die organisasie se kantore aangekom het, dramaties verbeter het.
Rescue Rex is in Junie deur die DBV ingeneem en is sedertdien in hulle sorg. 'n Hofgeding teen die beskuldigde het Vrydag, 29 Junie in die landdroshof in Mosselbaai begin maar is egter uitgestel.
'n Woordvoerder van die DBV sê: "Ons het 'n oproep ontvang dat 'n hond aan 'n ketting in Mpentshastraat in die JCC-woongebied vasgemaak is. Ons het een van ons inspekteurs, Luyanda Renge, gestuur om ondersoek te gaan instel.
"Met sy aankoms het hy bevind dat die hond ondervoed is en in haglike omstandighede gehou is. Hy het 'n waarskuwing aan die eienaar uitgereik en die hond saam met hom gevat. Daar is aan die eienaar verduidelik dat sy hond by die DBV Mosselbaai is. Luyanda het die hulp van kst Ayabonga Lolo van die Da Gamaskop-polisiestasie ingeroep.
"Konstabel Lolo het saam met Luyanda na die woning gegaan en die eienaar is die volgende oggend gearresteer weens die hond se mishandeling en verwaarlosing."
Rescue Rex het slegs 13kg geweeg toe hy by die DBV Mosselbaai aangekom het, maar met baie aandag en toewyding vanaf Jolandi Esterhuizen, die hondehokbestuurder, kan 'n verskil in die dier se voorkoms daaglikse waargeneem word.
Rescue Rex het slegs 13kg geweeg toe hy by die DBV Mosselbaai aangekom het.
Daar word elke dag met Rescue Rex gestap. Hy word geleer om met 'n bal te speel en geniet elke oomblik daarvan. Tans weeg Rescue Rex reeds 21.45kg.
"Daar is defnitief al 'n groot verskil en dit gaan baie goed met hom. Sy vel lyk ook baie beter en hy is op 'n spesiale eetplan."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'