MOSSELBAAI NUUS - Reo, 'n gidshond wat op Mosselbaai woon, het slegs 'n paar maande oor om te leef.
Dié sesjarige hond van 'n siggestremde vrou van Mosselbaai, Amanda Bester, is onlangs met beenkanker gediagnoseer.
In 2019, het Amanda en Reo geskiedenis gemaak nadat uitspraak in die gelykheidshof gelewer is wat behels dat niemand wat van 'n gids- of dienshond of outisme ondersteuningshond gebruik maak, die reg van toegang tot 'n perseel ontneem mag word nie, tensy daar grondige redes is.
Dit volg nadat sy en Reo op 17 Augustus 2017 die deur by die kantoor van binnelandse sake op Mosselbaai gewys is.
Amanda sê die slegte tyding oor Reo, was 'n groot skok vir haar.
"Ek en Reo is baie lief vir stap en ek het aanvanklik gedink daar sit dalk net iets in sy poot vas. Hy het sy been in die lug gehou en saggies getjank. Ek het dit tuis probeer dokter maar dit het nie beter geword nie," sê Amanda.
Nadat 'n veearts X-strale van Reo se been geneem het is Amanda se ergste vrees bevestig.
Diagnose
Reo het beenkanker. Amanda sê toe sy dit hoor het sy in trane uitgebars. "Dit was regtig die laaste ding wat ek gedink het."
Die veearts het Reo 'n lewensverwagting van tussen drie en ses maande gegee.
"Dit is nou twee maande sedert die diagnose. Ek het aanvanklik nog bietjie met Reo gaan stap, maar ek kan glad nie meer met hom stap nie. Hy lê maar baie bedags en natuurlik bederf ek hom nou baie. Die kanker het reeds versprei en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie," sê 'n emosionele Amanda.
Reo eet darem nog goed en hy swaai nog sy stert. "So darem raak hy nog opgewonde."
Gidshond
Amanda sê die gidshondvereniging het haar reeds gekontak om haar in te lig dat sy enige tyd kan aansoek doen vir 'n gidshond wat Reo sal vervang.
Dit sal egter behels dat sy vir 'n paar dae opleiding saam met haar nuwe hond by die vereniging moet bywoon.
"Ek sien net glad nie nou daarvoor kans nie. Ek het tyd saam met Reo nodig en het ook tyd nodig om oor hom te rou."
Sy sê as sy Reo in twee woorde moet opsom dit sal wees: Gentle giant.
"Reo is 'n groot hond maar hy 'n is gentle hond. "Ek bederf hom nou baie. Hy mag nou dinge doen wat hy nooit in sy lewe gedoen het nie."
Amanda Bester en Reo in 2019, kort na die geskiedkundige hofuitspraak in hulle guns. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'