Die jong renosterbul, genaamd July, aangesien hy op 1 Julie 2012 gebore is, is op Sondag, 30 Junie tydens 'n voersessie deur plaaspersoneel vir die laaste keer lewend gesien. Met die deurdringende reën wat die volgende twee dae neergesif het, is voeding nie gegee nie, aangesien die diere vermoedelik eerder in die bosse sou skuil. Toe die weer teen die Woensdag opklaar, is die kalf, wat gewoonlik by sy ma is, nie opgemerk nie.
Crous, wat uitstedig was vir 'n wildvangs in die Noord-Kaap, het op Vrydag, 5 Julie op Bergsig aangekom.
"Ons het oral gesoek, te voet en met die helikopter, maar kon tot dusver nie die kalf opspoor nie," het Crous aan die Advertiser gesê.
Volgens Lizelle du Plooy, 'n werknemer op Bergsig, het hulle soektog tot dusver geen bewyse opgelewer nie betreffende die kalf se lot nie.
"Ons het nog nie op 'n karkas afgekom of enige teken van gedwonge toegang vind nie," sê sy. Die saak is intussen gerapporteer by die SAPD Da Gamaskop en CapeNature.
Volgens 'n Bewaringsdienste-beampte van CapeNature, Carlo van Tonder, is daar volgens sy kennis nog nie voorheen 'n sodanige geval waarin 'n renosterkalf vermis word by die instansie aangemeld nie. Hy het bevestig dat 'n wit renosterkalf vanaf 15 maande oud gespeen kan word en gewoonlik twee tot drie jaar meestal onafskeidbaar van die koei is.
Du Plooy het bevestig dat Bergsig verskeie maatreëls in plek het om renosterstroping af te weer.
"Ons patrolleer die plaas en het ook ten duurste GPS-toestelle aangeskaf waarmee ons renosters se bewegings probeer monitor. In Augustus verlede jaar is die renosters boonop onthoring vir hulle eie beskerming."
Die saak word ondersoek deur Speuder-luitenant Ashley Michaels van die SAPD Da Gamaskop by kontaknommer 044 606 2200 of kontak Lizelle du Plooy by 073 935 8065. 'n Beloning van R100 000 word aangebied vir enige positiewe inligting wat tot die opsporing van die kalf lei.
* Volgens die jongste statistiek vrygestel deur die Department van Omgewingsake op 11 Julie vanjaar, is 480 renosters in 2013 gestroop.

'n Renosterkalf word vermis van die plaas Bergsig buite Hartenbos. Hierdie is die laaste foto wat van die jaaroue bul saam met sy ma en ander renoster geneem is op Sondag, 30 Junie tydens 'n voersessie.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'