MOSSELBAAI NUUS - Die afterwe van 'n lid van die Ulysses-klub en ook vorige president, Michal Vermaak het groot emosie onder motorfietsryers, asook die breër gemeenskap ontlok. Michal (63), is Maandagoggend, 13 Januarie by sy huis in Heiderand aan 'n beroerte oorlede.
"Hy was soos 'n broer vir my," meen huidige president, Eddie Boshoff. Eddie en Michal was ook werkskollegas, albei instrumentasie opleidingsbeamptes.
Vermaak se weduwee, Magda oftewel Mags soos almal haar ken, sê dat sy nooit besef het hoeveel omgee en liefde daar in die Mosselbaaise gemeenskap bestaan, tot met haar man se afterwe nie.
"Mich was 'n mensemens."
'n Vriend, Theron Strauss beaam dit en sê dat hy Michal se vriendelikheid sal mis. "Daar is nie 'n mens gewees wat hy nie sou groet en 'n drukkie gee nie."
Motorfietsry was 'n lewensdroom van Michal, aldus sy vrou. "Hy het sy eerste fiets met sy erfgeld gekoop. En met die kinders uit die huis, kon ons toe begin ry. Daar was altyd 'n woordelose kommunikasie tussen ons. Ek het nét saam met hom gery. Dit was ons tyd met die Here."
Sy eerste motorfiets het hy in 2007 aangeskaf. Sy derde en ook laaste ryding was sy Triumph Rocket.
"Mich het 'n reguit pad geloop en as iemand hulp nodig gehad het, was hy altyd die eerste een om aan te bied," vertel Eddie. Mags eggo dit met: "Hy was baie reguit en het geen doekies omgedraai nie. Hy het verskriklik graag mense gehelp." Die paartjie was 43 jaar lank getroud.
Michal laat sy vrou, Mags, twee kinders, Eugene en Christene, 'n skoonseun en -dogter, asook vyf kleinkinders agter.
Hy word vandag, 17 Januarie om 15:00 vanuit die New Life-kerk in Heiderand begrawe. Motorfietsryers van verskeie klubs kom reeds 14:15 by die Mosselbaai Mall byeen en sal vandaar in konvooi na die kerk in Apiesdoringstraat vertrek.
"My innige dank aan Metro-ambulansdiens. Hulle was puik en hier binne minute nadat hulle gekontak is," sê Mags.
Michal Vermaak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'