Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Onder aanvoering van Icosa-raadslid Dawid Kamfer, het 'n regsverteenwoordiger van Lawyers for Human Rights op Maandag, 31 Julie vergader met 'n groep inwoners van Powertown wat volstrek weier om in Sonskynvallei hervestig te word.
Beswaarde inwoners het te velde getrek teen die hervestigingsproses omdat hulle meen die grond waarop Powertown tot stand gekom het, reeds aan 'n ontwikkelaar verkoop is en dat dit omskep sal word in 'n gholflandgoed ná die laaste gesin verhuis het.
Daar is sterk menings uitgespreek oor die ontoeganklikheid van bestaande skole vir leerders uit Powertown, en die emosionele verbintenis wat die gemeenskap met die area het.
"Hier is ons begraafplaas, hier lê ons grootmense. Hier is ons rugbyveld. Hier kan ons afstap rivier toe of see toe en vis vir die pot gaan vang. Hier kan ons in die vars lug wakker word."
Vrese is uitgespreek dat skoolvervoer na bestaande skole vir leerders uit Powertown slegs vir 2017 voorsien sal word. Boonop is aangevoer dat die hervestigingsproses nie voorsiening maak vir die feit dat tot vier gesinne in een huis in Powertown woon nie, en dat nie almal noodwendig kwalifiseer vir die hervestiging nie.
'n Gemeenskapsleier, mnr Colin Syfers, het 'n sterk betoog met redes aangevoer waarom alternatiewe verblyf vir Powertown-inwoners in die Groot-Brakrivier-omgewing bekom moet word.
Die regsverteenwoordiger, Louise du Plessis, het op Dinsdag met verteenwoordigers van die Mosselbaai-munisipaliteit oor onder meer klarigheid oor die verblyfreg vir die Powertown-inwoners vergader. Sy het tydens die vergadering laat blyk dat dit die eerste van waarskynlik vele gespreksgeleenthede is wat sal volg.
Hierbenewens het Icosa die regsverteenwoordiger ook na ander probleemgevalle in Ruiterbos, Souwesia en Vleesbaai vergesel met die hoop dat die nie-regeringsorganisasie ook in hierdie gevalle sal kan bemiddel.
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n vorige artikel: Powertown-inwoners kry ondersteuning
ARTIKEL & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'