MOSSELBAAI NUUS - Die moontlikheid bestaan dat die gemeenskap se mening deur middel van 'n referendum getoets mag word oor die voorgenome herontwikkeling en opgradering van die omstrede Souwesia-strandgebied.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het vroeër vanjaar voorgestel dat 'n drie-ster gegradeerde woonwapark met dagkamperingsgeriewe op Souwesiastrand ontwikkel moet word. Die gemeenskap, veral Groot-Brakkers, het egter heftig teen hierdie voorstelle reageer.
Uit terugvoere tydens die openbare deelnameproses wil dit voorkom asof die gemeenskap verkies dat die munisipaliteit die ou Souwesiastrandarea en woonwapark en kampterrein herontwikkel soos wat dit eens bestaan het voordat die geriewe gevandaliseer en afgebreek is.
Gevolglik is tydens die komiteevergadering van die portfoliokomitee vir beplanning en geïntegreerde dienste op Woensdag, 11 Julie voorgestel dat die raad kennis moet neem van die openbare deelnameproses wat gevolg is, en 'n besluit sal moet neem oor moontlike verdere onderhandelinge en straks selfs 'n referendum oor die voorgenome ontwikkling.
Die munisipaliteit het vroeër vanjaar besluit dat die area vir 'n termyn van 30 jaar aan 'n privaatinstansie verhuur word sodat sowat 48% van die terrein as 'n drie-ster gegradeerde woonwapark ontwikkel mag word. Tegelykertyd, is voorgestel, sal die res van die strandgebied vir dagkampering opgegradeer word.
Die strandgebied sal steeds die eiendom van die Mosselbaai-munisipaliteit wees, maar die privaatinstansie wat die oord bestuur en bedryf sal die opgraderings op eie koste moet doen. Verder is voorgestel dat die fasiliteite heeljaar beskikbaar vir die publiek moet wees.
Boonop is voorgestel dat die munisipaliteit die fasiliteite gratis sal kan gebruik vir dorpsfeeste en ander groot byeenkomste, wat 'n welkome finansiële inspuiting vir die Groot-Brakrivierarea mag meebring.
Die komitee het aanbeveel dat gedelegeerde magte aan die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, asook raadslede Cliffie Bayman, Anton Dellemijn, Niklaas Booisen en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en relevante personeel gegee moet word om met die gemeenskap te onderhandel. Sou dit blyk nodig te wees, sal hierdie komitee oor die gedelegeerde magte beskik om 'n referendum daarvoor te laat plaasvind.
Sou die raad hierdie aanbevelings tydens hul maandelikse vergadering op Donderdag, 26 Julie aanvaar, sal die komitee met hul werksaamhede 'n aanvang neem en sal hulle mettertyd 'n volledige verslag, met aanbevelings, aan die raad vir 'n finale besluit voorhou.
Lees 'n verwante artikel: Veg vir Souwesia
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'