Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Twee Saterdae reeds het lede van die Heiderand-buurtwag, bygestaan deur vriende en familie hul familietyd opgeoffer om die padskouer van Louis Fourieweg skoon te maak.
Dis egter nie net rommel nie, maar ook indringerbosse wat onder skoot gekom het sodat die area vir die groter Heiderand beveilig kan word.
Elmarie Landman van die buurtwag vertel dat hulle verlede Saterdag 'n handsak, wat goed versteek was, opgespoor het. Daarbenewens is daar in samewerking met Interwaste heelwat rommel opgeruim.
"Die indringerbosse kan geredelik as wegkruipplek vir misdadigers gebruik word. Heelwat mense gebruik Louis Fourieweg om werk toe en terug te loop. Deur die bosse te verwyder word boonop nie net die gevaar aangespreek nie, maar ook die omgewing bewaar."
Die buurtwag benadruk dat die gemeenskap 'n gesamentlike verpligting het om na hul eie veiligheid om te sien en by optrede betrokke te raak wat misdaad bekamp.
"Nie almal kan of behoort patrollies te ry nie, maar elkeen kan op hul eie, unieke manier 'n bydrae lewer deur by die buurtwag in te skakel. Optrede soos die skoonmaak van Louis Fourieweg verg nie net hande-arbeid nie, koeldrank en verversings is ook goedgunstiglik deur die ouer buurtwaglede voorsien aan oud en jonk."
Snoeiskêre, kettingsae en brute krag moes gebruik word om die indringerplante af te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'