MOSSELBAAI NUUS - 'n Enkele skoot is op Sondag, 19 Augustus om ongeveer 16:50 afgevuur en het na bewering raadslid Erica Meyer (DA) se woning getref. Raadslid Meyer het volgens polisiewoordvoerder kapt Wollie Fourie van die Da Gamaskop-polisie 'n koeëlpunt in haar erf opgetel.
Kaptein Fourie berig dat 'n saak van poging tot moord geopen is wat deur lede van die Da Gamaskop-polisie se ondersoekeenheid ondersoek sal word.
"Lede van die polisie se aflossings het later 'n persoon in die omgewing waar die voorval plaasgevind het, gearresteer vir die besit van ammunisie, hoewel op geen vuurwapen beslag gelê is nie," berig kapt Fourie.
Mosselbaai-kiesafdeling se politieke leier, Jaco Londt berig dat raadslid Meyer, wat ook as raadslid in die Eden Distriksmunisipaliteit dien, baie geskok is na die voorval.
"Daar is op hierdie stadium geen bewyse van politieke bymotiewe nie en daar moet gemaan word teen enige onverantwoordelike uitsprake in hierdie verband. Die Demokratiese Alliansie sal natuurlik raadslid Meyer bystaan vir soverre dit moontlik is."
Raadslid Erica Meyer.
Wetstoepassers het nietemin onderneem om veiligheid in die omgewing van raadslede se huise in die aanloop tot die verkiesing op te skerp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'