MOSSELBAAI NUUS - Icosa-leier en munisipale raadslid Dawid Kamfer is tydens die algemene raadsvergadering op 25 Februarie op aanbeveling van die munisipale raad se gedragskodekomitee met R10 000 te beboet.
Kamfer is daarvan beskuldig dat hy nie in goeder trou opgetree het nie toe hy in April 2020 boodskappe op sosiale media geplaas het oor die verspreiding van kospakkies deur die Mosselbaai-munisipaliteit.
In dié boodskappe het hy beweer dat sekere raadslede en amptenare van die munisipaliteit kospakkies versprei en uitgedeel het aan lede van die algemene publiek wat nie persoonlik daarvoor aansoek gedoen het nie.
Kamfer het ook beweer dat die kospakkies volgens 'n DA-kieslys uitgedeel is en het 'n polisieverklaring gaan aflê waarna hy 'n ondersoek na die gebeure aangevra het.
Voorts het Kamfer ook op 18 Mei 2020 aan 'n byeenkoms met 'n aantal plaaslike vissermanne deelgeneem wat vlak 4 van die nasionale Covid-19-inperkingsmaatreëls oortree het. Hy is ingevolge die Rampbestuurswet hiervoor aangekla, maar die saak teen hom is teruggetrek.
Die aangeleenthede is na die raad se gedragskodekomitee verwys vir ondersoek en om 'n gepaste aanbeveling aan die raad te maak.
Die vergadering van die gedragskomitee is herhaaldelik, onder meer op versoek van Kamfer, uitgestel. Op 3 Februarie het die gedragskodekomitee, onder voorsitterskap van raadslid Annetjie Janse van Rensburg, vergader om die klagtes oor beweerde onbehoorlike optrede teen Kamfer te bespreek nadat nóg 'n versoek vir uitstel deur Kamfer se regsverteenwoordiger afgekeur is.
Die komitee se verslag lui dat hulle van mening is dat Kamfer die reputasie van die raad en die munisipaliteit in oneer gebring het en dat hy ook nie die regte prosedure gevolg het om die munisipaliteit in kennis te stel van sy bewerings teen die personeel en / of ander raadslede nie.
Die gedragskodekomitee was ook van van mening dat Kamfer doelbewus vertragingstaktiek gebruik het om die dissiplinêre proses teen hom nadelig te beïnvloed.
Kamfer het beweer dat die affidavit wat hy by die polisie aangaande die uitdeel van die kospakkies afgelê het, wederregtelik bekom is en dat die inhoud in getuienis teen hom gebruik is.
Die munisipaliteit het die bewering by navraag weerlê en gesê dat die munisipaliteit na afloop van die ondersoek na die klagte wat Kamfer gemaak het, die SAPD Mosselbaai vir 'n afskrif van die klagte gevra het, wat ingevolge regulasies en riglyne beskikbaar gemaak is.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het die raad ingelig dat die aantygings deur Kamfer intern, asook deur die SA Polisie en die Spesiale Ondersoek-eenheid (SIU) ondersoek is. Volgens Gillomee kon geen van hierdie ondersoeke enige substansie vir die beweringe vind nie.
Kamfer het 'n reg tot appél wat aan die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, minister Anton Bredell gerig kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'