MOSSELBAAI NUUS - Die Badenhorst-kinders het toentertyd in idilliese omstandighede in die Blue Waters-omgewing digby Diasstrand grootgeword.
Die jong Bennie Badenhorst het gereeld in die see geswem en seekos uitgehaal. Die klofies agter en langs hul huis het gewemel van dierelewe, hulle kon uit hul pa se groentetuine leef, die area was vir gesin 'n paradys.
Sedertdien is Bennie Badenhorst, nou die eienaar van die Blue Waters-woning, vir amper 30 jaar in 'n stryd gewikkel met beide die munisipaliteit en die (eens onwettige) plakkers wat nou wettig toegelaat word om tydelik op die baie skuins helling in die klofie agter sy woonhuis te woon.
"Niemand kan sê wanneer huise gebou gaan word nie. Tydens 'n vergadering met die munisipaliteit op 1 September hoor ek dit kan tot 10 jaar duur voor Walvisstraat tot agter Bennie se huis verleng word," sê Odette Philip wat namens haar broer, Badenhorst, optree.
Onhigiënies
Die onhigiëniese toestande in die kloof agter die woonhuis is nie vanaf Louis Fourieweg sigbaar nie. 'n Besoek aan die area toon egter 'n plakkersbuurt met sowat 10 veekrale met heelwat beeste, boerbokke en skape. Tussen die veekrale is talle hoenders en selfs nog meer losloperhonde opgemerk.
Geen water of voer vir die diere is te sien in die onderskeie krale nie. Geen vullishouers is opgemerk nie en inwoners stort skynbaar die rommel in die sloot wat as 'n stormwaterafloop dien. Vuil water stroom tussen plastieksakke en ander rommel teen die koppie in die kloof af. Dit stink.
Die plaasdiere se ontlasting moet noodgedwonge ook in die sloot beland, veral wanneer dit reën. Sowat 150 meter verder loop die afvoerwater in die see. Daar is geen paaie tussen die wonings nie. Op twee punte is 'n paar buitetoilette voorsien.
Hierdie inwoners het skynbaar geweier om hervestig te word, waarskynlik juis weens die plaasdiere wat hulle aanhou.
In 'n kloof agter die bekende Blue Waters-woonhuis op Louis Fourieweg word tientalle veeskuilings - binne die munisipale grense en tussen talle plakkershuise - in onhigiëniese toestande aangetref. Meer grond word oënskynlik aan die krale as aan woonhuise afgestaan.
Intimidasie en teistering
Wel opmerklik is dat van die mans wat in groepies in die son rondstaan die media op die oorkantse wal met verkykers dopgehou het. "Hulle monitor elke beweging in die erf en langs Louis Fourieweg."
Philip sê die plakkers teister hulle. Intimiderende, aggressiewe gedrag teenoor haar en Badenhorst sluit onder meer in dat die plakkers gereeld klippe, selfs halwe bakstene op die huis se dak gooi waar meer as 40 stukkende plekke onlangs getel is.
"Die dak lek soos 'n sif in die reën," aldus Philip, wat namens haar broer optree. Dit sal Badenhorst R45 732 kos om die dak te herstel.
"My broer se eiendom word gereeld beskadig of besteel. Sy voertuie word met klippe gegooi, wanneer hy ondersoek instel, trek die plakkers hul broeke af en koggel hom. Hulle gooi hom met halwe bakstene."
Reeds op 7 Oktober 2013 het raadsheer Petru Terblanche, wyksraadslid, in 'n skrywe die administrasie gemaan oor die probleem van die intimiderende gedrag teenoor Badenhorst.
Ondanks herhaalde versoeke oor jare heen dat die munisipaliteit teen die oorlas en teistering waaraan hulle onderwerp word, moet opree, kom niks nie.
Ander kla
Nie net Badenhorst kla oor die intimidasie en vullis nie. Johan Axer, wat 'n entjie nader aan Mosselbaai ook langs Louis Fourieweg woon, beaam die probleme. Hy kla oor die onooglike vullis wat teen die koppie afgegooi word.
Hy sê die munisipaliteit moenie ouer vroue stuur om die steil helling skoon te maak nie. Ook hy word binne sy erf met klippe gegooi. Klippe word gereeld op sy huis se dak gegooi. Hy meen die intimiderende gedrag is bedoel om hom ook sover te kry om sy huis te ontruim.
Twee ander huise in dieselfde area is waarskynlik deur die plakkers geplunder, een is nou 'n murasie en die ander, 'n huis wat erfenisstatus gehad het, is sedertdien platgeslaan.
Heining
Onlangs is sowat 43 meter van die agterste heining wat Blue Waters van die koppie - en die plakkersbuurt - skei, gesteel. Badenhorst het dit besef toe hy die vee in sy werf sien wei. Die plakkers het aggressief reageer toe hy die vee probeer verwilder het. Dit sal hom sowat R40 000 kos om dié heining te vervang.
Die plakkers loop sedertdien ongesteurd deur die erf.
Badenhorst het die munisipaliteit nou gevra om - op eie koste - 'n tydelike heining van sowat 43 meter oor munisipale grond op te rig om sy eiendom teen die rondloperdiere en plakkers te probeer beskerm. Hierdie heining sal hom sowat R24 000 kos. Philip sê die munisipaliteit het tydens 'n vergadering op 1 September egter aanbeveel dat die munisipale grond wat deur die voorgenome heining by Badenhorst se erf ingesluit word, van die munisipaliteit gehuur moet. Die grond word tans nie deur die munisipaliteit gebruik nie.
Ten minste twee privaat wonings langs Louis Fourieweg het reeds die slagoffers van matelose plundery geword. Een van hierdie wonings, 'n historiese erfenisgebou, is intussen gesloop.
Riool
Die munisipaliteit het 28 jaar gelede van Badenhorst se grond bekom vir 'n stormwatersloot, wat deels deur sy huidige erf loop. Tydens hierdie transaksie het die munisipaliteit onderneem om die stormwaterstelsel gereeld skoon te hou.
Die Mossel Bay Advertiser het in die onlangse verlede by herhaling berig oor riool wat na bewering uit hierdie stelsel in die see beland.
Philip sê veral wanneer dit reën loop vrot water wat na riool ruik uit die klofie en selfs deur Badenhorst se woning. Hulle het van die afloopwater op Riversdal laat toets en bewyse gekry dat dit rioolwater is.
"Die munisipaliteit het onlangs belowe om die stormwaterstelsel skoon te hou en gereeld na te gaan. Dit gebeur nie."
Die munisipaliteit het 'n keerwal in die afvoerwaterstroom gebou. Dit keer van die vullis soos plastieksakke en ander rommel, maar die water, wat na rioolvuil ruik, stroom ongehinderd deur die versperring.
Verordeninge
Raadsheer Terblanche het op 7 Oktober 2013 daarop gewys dat Badenhorst 'n belastingbetaler is "wat sy pligte teenoor die munisipaliteit te alle tye nakom." Hy het toe reeds gevra dat die geskiedenis van kommunikasie tussen Badenhorst en die munisipaliteit in oënskou geneem moet word om "te besin of alle voornemens uit die verlede aangespreek is."
Tydens die raadsvergadering van 25 Junie 2015 is die gewysigde Verordening insake Openbare Oorlaste en die gewysigde Verordening insake die Skut van Diere aanvaar.
"Belastingbetalers kan hulle nie op die munisipale verordeninge beroep vir die beskerming van hul regte en lewenskwaliteit nie. In Mosselbaai word verordeninge nie konsekwent toegepas nie, regulasies wat vir die een groep geld, geld duidelik nie almal nie."
Geen kommentaar op vrae is teen saktyd van die munisipaliteit ontvang nie.
Die stroompie wat van die nedersetting in die see se rigting afvloei, is verstop met vullis. In die nedersetting self was geen tekens van vullishouers nie, Inwoners meen die plaasvee se ontlasting stroom ook in hierdie sloot af en beland waarskynlik in die see.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'