Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Vryheidsfront plus het die besluit dat Mosselbaai se munisipale bestuurder, Colin Puren die bedrag van R573 805 moet terugbetaal verwelkom.
Dit volg op ‘n dringend mosie wat Mosselbaai burgemeester Dirk Kotzé die afgelope week tydens ‘n spesiale raadsvergadering gebring het, en waartydens daar besluit is om Puren se vorige salarispakket te herroep.
Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell en dr Nkosazana Dlamini-Zuma (toe nog minister van samewerkende regering en tradisionele sake) het gesê Puren se salaris moet laer wees.
Die opposisiepartye het wel vir Puren se aanstelling gestem, maar is nooit ingelig oor Bredell en Dlamini-Zuma se skrywes nie.
Puren gaan binnekort volgens die munisipaliteit se laagste salarisskaal vir die pos vergoed word.
Hy moet egter ook die verskil tussen die hoogste vlak waarvolgens hy eers betaal is, en die laagste vlak terugbetaal.
Die ACDP sê in ‘n verklaring, wat gister uitgereik is, dat indien die DA wettig opgetree het, die vraag gevra moet word, hoekom Puren nou die bedrag van R573 805 moet terugbetaal.
“Waarom gaan die munisipale bestuurder nou die laagste salaris op die skaal vir sy pos vir die res van sy termyn ontvang?”
Die ACDP sê die DA erken skuld deur Puren voortaan volgens die laagste salarisskaal te vergoed.
Die ACDP het onlangs saam met ander opposisieparty, wat Icosa en die Vryheidsfront plus insluit, klagte van bedrog teen die DA-koukus by die Mosselbaai-polisiestasie aanhangig gemaak. Die ondersoek is intussen deur die Valke oorgeneem.
Intussen sê Icosa die party gaan nie die strafregtelike klagte laat vaar nie.
Vorige artikel: Puren na laagste salarisskaal
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’