Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Dis maar knap oor die twee weke dat Colin Puren, nuut aangestelde munisipale bestuurder van Mosselbaai in die warm stoel sit.
Inteendeel Puren, wat reeds sedert verlede jaar as waarnemende munisipale bestuurder optree, het tydens sy onderhoud gesê dat hy uit respek gedurende sy waarnemingstydperk, nie in die munisipale bestuurder se stoel gesit het tot die amptelike aankondiging van sy aanstelling gemaak is nie.
Die Mossel Bay Advertiser het ‘n paar vrae gerig aan Puren gerig wat die top administratiewe pos in die Mosselbaai-munisipaliteit vir die volgende vyf jaar sal beklee.
Die uitvoerende burgemeester van die Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé het ook insette tydens die onderhoud gelewer.
1.Daar is ‘n strategiese sessie gehou vir die raad en topbestuur om te gesels oor die dorp se groeistrategie. Semigrasie is die gonswoord, maar daar is uitdagings soos die druk verkeer?
CP: As daar een ding is wat uitgestaan het tydens die gesprekke, is dit dat die raad vír sy mense is. En nie net die inwoners van ons dorp nie, maar almal wat die dorp besoek. Die groeistrategie is in detail uitgepak tydens die sessie en sal nou verfyn word.
DK: Daar bestaan ‘n persepsie oor druk verkeer in ons dorp. Ons sê ons het ‘n krisis, want die pad is besig. Ek ry van buite die dorp na my kantoor op verskeie tye en dit is so, Louis Fourieweg is deur die loop van die dag redelik besig. In totaal het my reistyd maar met 10 minute verleng. Dit gaan hier oor ‘n ingesteldeheid. Louis Fourieweg gaan opgradeer word. Dit bring ‘n kapitale investering van R400 miljoen mee waarvoor die provinsiale regering gaan betaal. Die opgradering bring werksgeleenthede mee, te midde die moontlike werksverlies by PetroSA. Verder gaan die opgradering van infrastruktuur verseker dat die las vir ten minste 30 jaar verlig word. ‘n Mens moet waak daarteen om nie alles in ‘n negatiewe lig te sien nie.
CP: Ek wil net noem terwyl ons oor verkeersklagtes praat. Die publiek blameer die munisipaliteit dikwels wanneer byvoorbeeld voertuie oor rooi verkeersligte jaag, maar as ons nog verkeersbeamptes kon bekostig, sou ons nog aangestel het. Tydens die strategiese sessie is veral beklemtoom hoe innovasie en tegnologie gebruik kan word vir meer effektiewe wetstoepassing. Dit sluit onder meer statiese kameras in wat kan help met die inwin van bewyse teen verkeersoortreders.
VIDEO: Puren in die warm stoel
2.Ekonomiese groei en ontwikkeling trek mense en dit plaas weer die fokus op behuising. Hoe word die vraagstuk bestuur?
CP: Dis die een vraag wat nie net in Mosselbaai nie, maar in die hele land ‘n kwessie is. Suid-Afrika het ‘n baie liberale grondwet wat sê dat die land aan almal behoort wat in hom woon. Daar kan nie ‘n wet toegepas word wat mense verhoed om jou dorp te besoek nie. In die Wes-Kaap is ons gelukkig dat hier goeie regering en ontwikkeling is. Elders in die land is mense werkloos en soek hulle beter geleenthede as gevolg van ander sfere van regering wat oneffektief is. Hierdie tendens kom voor by gegoedes en armes. Almal soek ‘n beter uitkoms. Behuising is nie ‘n munisipale funksie nie – ons is slegs die agent. As ons nie hulp van die nasionale regering kry wat befondsing betref nie, kan ons hóé innoverend ook al wees, ons gaan nie ver kom nie. Een ding waaroor ons baie sterk in Mossebaai voel, is dat ons solank ons asemhaal, onwettige besetting met hand en tand sal beveg. Ons sal niks ontsien om munisipale grond te beskerm nie, binne ons vermoë en wat die raad kan bekostig. Daar is ook ‘n kwessie dat munisipaliteit se grond op raak en samewerking met ander sfere van regering is hier noodsaaklik.
DK: Die Wes-Kaapse regering het hulle strategie aansienlik verander om mense wat nie meer so maklik na hulleself kan kyk nie, te akkommodeer. Dit is byvoorbeeld enkelouers en bejaardes. Ongelukkig bly die persepsie steeds dat sogenaamde “inkommers” of persone wat nuut in die dorp kom, eerste huise kry. Ons is bevoorreg in Mosselbaai dat daar baie behuisingsprojekte uitgerol word en nog gaan word. Mense semigreer en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. ‘n Baie belangrike boodskap wat ons wil uitstuur is dat wet en orde hier toegepas word. Hier kan jy nie maak soos jy wil ten koste van die plaaslike inwoners nie. Daar moet ‘n balans gehou word. Die nodige infrastruktuur plaas druk op ons begroting, maar die uitbalanseringstoertjie is om deur middel van die groeistrategie, geleenthede te skep vir mense wat wel vir dienste kan betaal om na ons dorp te kom. Die vraag is of daar genoeg ontwikkelinge en eiendomme beskikbaar is. Ons beplan en het belê in die opgradering van belangrike infrastruktuur met die oog op die volgende 30 jaar. Aansoekprosesse word meer vaartbelyn gemaak en dies meer, want as ‘n munisipaliteit wil ons onsself ten toon stel as ‘n onderneming met effektiewe organisasie wat breë dienste aan die gemeenskap lewer.
3. Wat bring jy as nuwe munisipale bestuurder na die tafel toe? Wat sal Colin Puren se nalatenskap wees?
Ek het een geword met Mosselbaai. In 1996 is ek aangestel as verkeershoof en in 2002 as direkteur van gemeenskapsdienste, nou is ek munisipale bestuurder. As ek terugkyk oor my loopbaan, is ek dankbaar dat ek op een plek kon bly. As ‘n mens so lank op een plek bly beteken dit dat iets reg moet wees in dié dorp. Die gehalte van die mense hier het my genoop om, ten spyte van ander aanbiedinge elders, híér te bly. Die munisipaliteit is stabiel, polities én wat die bestuur betref. Ons sit nie met ‘n munisipaliteit wat soos ‘n verkleurmannetjie lyk nie.
Mosselbaai beskik oor bekwame mense in die gemeenskap wat bereid is om skouer aan die wiel te sit. ‘n Voorbeeld hiervan is die talle mense wat betrokke is by die bevordering van veiligheid. Die visie van die raad is ook baie belangrik – om ‘n toonaangewende munisipaliteit te wees wat uitstaande dienste aan almal lewer.
Ek sal onthou wil word as die munisipale bestuurder wat alles in my vermoë gedoen het om saam met die raad aan alle inwoners dienste van die hoogste moontlike standaard te gee en vir my bydrae tot ‘n veilige, gesonde omgewing. Ek wil my beywer daarvoor dat alle inwoners met respek, waardigheid, empatie en simpatie behandel word. Ek wil ‘n oopdeurbeleid handhaaf en alle navrae sover moontlik hanteer.
Boonop wil ek seker maak dat belastingbetalers se geld op ‘n skoon, deursigtige manier, sonder om te mors, bestee word. Samewerking met die raad en die personeel, wat ons grootste bate is, is kernbealngrik. Ek sal geken wil word as die munisipale bestuurder met ‘n innoverende manier van dinge doen – nie alleen nie, maar saam met die bestuurspan, die raad en alle politieke partye, terwyl – bo alles – Christelike waardes gehandhaaf word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'