MOSSELBAAI NUUS - Die hoof van Hoërskool Punt, Kobus Bester, het bedank.
Meneer Bester tree af weens gesondheidsredes. Sy vrou, Marinei, wat ook by Punt onderwys gee, het terselfdertyd bedank.
Bester het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê: "Ons sal voortaan iets anders doen."
Meneer Bester en sy vrou sal die akademiese jaar voltooi alvorens hulle die skool verlaat.
Mevrou Bester is bekend vir haar suksesvolle hantering van die Eskom-ekspo vir Jong Wetenskaplikes Eden en Klein Karoo-streek, waarvan Punt die gasheer is.
Die hoeveelheid deelnemers aan die ekspo het vinnig gegroei en van die deelnemers het nasionaal en internasionaal gekompeteer.
Onder meneer Bester se beheer het Punt as 'n sterk akademiese skool bekend geword. Ook, 20 van mevrou Bester se 32 toerisme-leerders het onlangs A-gemiddelde behaal.
"Twee jaar gelede het ek 'n ernstige oogprobleem ontwikkel toe my kornea deur 'n virus aangeval is. Dit het veroorsaak dat 'n koorsseer op my kornea gevorm het wat my amper my oog laat verloor het.
"Ek is behandel deur 'n oogspesialis in Kaapstad, dr Johan Kruger," het meneer Bester aan die Advertiser verduidelik.
"Hy het danksy intensiewe behandeling my oog gered, maar my sig in die oog is minder as 50%. Die virus lê latent in die oog en in stressituasies, of wanneer my immuniteit laag is, ontvlam dit weer.
Elke keer as die koorsblare op die kornea vorm, versleg my sig. Die afgelope maand het ek baie gesukkel om dit onder beheer te bring.
"Uit die aard van my beroep as skoolhoof werk ek daagliks voltyds met die publiek, ouers en leerders. Dit is baie moeilik om mense te sien met 'n oog wat baie rooi en ontsteek is.
"Ek moes 'n besluit neem en aangesien ek byna 60 jaar oud is, het ek, op aanbeveling van my spesialis, besluit dat my oog en my sig belangriker is as om verder aan stressituasies, wat maar deel van 'n skoolhoof se werk is, blootgestel te word.
"Die pos sal vroeg volgende jaar geadverteer word en 'n nuwe hoof behoort teen 1 Julie 2018 aangestel te wees. Intussen sal die een adjunkhoof, meneer Ferdie Pieterse, as hoof waarneem.
"Ek besef dat dit lyk na 'n skielike besluit, maar my gesondheidsituasie is iets wat ek al die afgelope twee jaar stilweg probeer balanseer met my verantwoordelikheid as hoof van Hoërskool Punt. Die afgelope uitgerekte virusaanval het net die finale besluit meegebring."
Lees 'n verwante artikel: Verklaring van die skoolbestuur
Kobus Swanepoel
Kobus Swanepoel, adjunkhoof van Punt, tree ook af aan die einde van die jaar nadat hy in Augustus aftree-ouderdom bereik het.
Hy het in Januarie 1984 by die skool aangesluit as eerstejaar onderwyser nadat hy sy militëre opleiding voltooi het in 1983.
Die skool het op daardie stadium net 740 leerders gehad.
Die skool se nuwe koshuis was byna voltooi en mnr Swanepoel en sy vrou, Elzaan word die eerste koshuisvader en matrone van die nuwe koshuis op die perseel van die skool.
Na 22 jaar as koshuisvader, besluit mnr Swanepoel om aan die einde van 2005 die koshuis te verlaat.
Mevrou Swanepoel het egter aangebly as matrone en tree ook aan die einde van die jaar af na 34 jaar se uitstekende diens in die koshuis.
Meneer Swanepoel was baie betrokke by buitemuurse aktiwiteite van die skool waar hy onder meer in beheer was van atletiek, landloop, tweekamp en gholf.
In hierdie tyd het Punt, onder sy leiding, 'n SA kampioen in tweekamp opgelewer, asook derde in die SA skolegholf-finaal in 2007 geëindig. In 1992 word hy bevorder tot departementshoof en in 2015 tot adjunkhoof van die skool.
Sy werk as deel van die bestuurspan van die skool is altyd met uitnemendheid afgehandel.
Swanepoel het 34 jaar by Hoërskool Punt deurgebring en het in 'n groot mate gehelp om die skool se leuse "Van Hoog na Hoër", te verwesenlik.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'