Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die laaste skooldag van matriekleerlinge van Hoërskool Punt bied jaarliks sekerlik een van die gewildste tradisies in Mosselbaai as die matriekgroep in die koue waters inspring.
Hierdie jaar kon die jarelange tradisie egter nie by die Poort plaasvind nie as gevolg van die stormskade aan die struktuur en daar is besluit om by Santosstrand die see-in te hardloop.
Na die laaste saalopening, waar ouers van die leerders ook teenwoordig is en daar amptelik van die matrieks afskeid geneem is, het die groep by Santos bymekaargekom.
Nadat ’n groepfoto geneem is, het die skoene en sokkies gewaai en is daar met ’n spoed weggespring - reguit water toe!
Uitbundige vreugde ten spyt van die koue water.
Een van die matrieks het na die tyd die volgende opmerking aan die Advertiser gemaak: “Die oomblik wat ek die water getref het, het dit gevoel soos vryheid!
"En dit het vir my die betekenis gehad van ons as visse wat uit die vistenk uit kom en in die groot oop see in spring om reg te maak vir die lewe daar buite.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'