MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt sê die skool en geen persoon wat by die skool betrokke is, het enige fondse vir die woonwastaanplekke of vakansieverblyf in die skool se koshuis ontvang of hanteer nie.
Dit volg nadat 'n storm in die kleine losgebars het nadat talle vakansiegangers se verblyf gekanselleer is.
Die skool maak dit egter in 'n amptelike verklaring duidelik dat 'n derde party, wie se naam aan die Mossel Bay Advertiser bekend is, 'n drie jaar kontrak ontvang het om die perseel tydens die Desembervakansie te verhuur.
"Hierdie projek het die eerste keer in 2021 afgeskop en was baie suksesvol. Die derde party het die besprekings, bestuur asook die finansies vir hierdie hele projek hanteer."
Luidens die verklaring is daar verder besluit om vanjaar woonwa-staanplekke voor die koshuis tot die projek by te voeg.
"Die derde party kon egter nie aan al die gesondheid- en veiligheidsregulasies voldoen nie en daar is besluit om nie met die 22-staanplekprojek voort te gaan nie. Die besluit is vroeg in November aan die derde party deurgegee."
Volgens die skool is die kansellasie van sekere van die koshuisverblyf egter die besluit van die derde party wat in beheer van die bestuur van die projek staan." Die derde party is verantwoordelik vir die terugbetaling van die deposito’s vir al die kansellasies en ons is ingelig dat die gelde wel terugbetaal word."
'n Woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Bronagh Hammond sê die skool het bloot hulle terrein aan die diensverskaffer uitverhuur. "Die skool is deur die derde party genader wat die skool se geriewe vir vakansieverblyf wou gebruik. Die skool het ingestem en sekere vereistes gestel. Ongelukkig moes die skool die kontrak kanselleer omdat sekere gesondheids- en veiligheidsregulasies nie nagekom is nie."
Hammond sê die skool word verkeerdelik gekritiseer vir die besluit en dat die besluit nie ligtelik geneem is nie. Sy sê verder hulle hoor die diensverskaffer het van die besprekings terugbetaal. "Dit moet egter met die derde party geverifieer word."
Die Advertiser weerhou die naam van die derde party omdat regstappe moontlik tussen die onderskeie partye mag volg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'