MOSSELBAAI NUUS - Die voorsitter van Hoërskool Punt se beheerliggaam het op navrae van die Mossel Bay Advertiser gereageer nadat dit bekend geword het dat 'n graad 9-leerder van die skool onlangs selfdood probeer pleeg het omdat hy na bewering geboelie is.
Die seun het die voorval oorleef maar het na wat verneem word in die proses breinskade opgedoen.
Die identiteit van die leerder kan nie bekend gemaak word nie, omdat hy minderjarig is.
Die skool het onlangs 'n fondsinsameling vir die leerder en sy familie gehou en die goedere is die afgelope week aan die familie oorhandig.
Beheerliggaam voorsitter, Marius Schoeman het die voorval die afgelope week bevestig. "Ons gedagtes is eerstens met die seun se familie in hierdie moeilike tyd. Boeliegedrag is onaanvaarbaar en lê nie net by skole in Mosselbaai nie." Schoeman sê die bewerings van boeliegedrag is deur die slagoffer by die skool aangemeld. "Die slagoffer en die skool se berader was in gesprek." Na wat verneem word was daar ook gesprekke tussen die betrokke partye en die beweerde boelie/s.
Schoeman beskryf die voorval as tragies en sê selfdood is 'n permanente oplossing vir 'n tydelike probleem.
"Natuurlik sal ons as skool selfondersoek doen. Ons sal kritiese vrae vra, soos wat ons beter kon doen. Almal moet selfondersoek doen." Hy sê die skool is in die proses om 'n fasiliteit te skep waar boeliegedrag anoniem aangemeld kan word.
"Dit is ons as ouers en die gemeenskap van Mosselbaai se plig om Punt die spogskool te maak wat dit veronderstel is om te wees. Boeliegedrag moet aangemeld word en beide die slagoffer en die boelie het hulp en ondersteuning nodig."
Meld boeliegedrag aan
Schoeman sê 'n groot uitdaging vir ouers is om hul kinders te leer om 'n stem te ontwikkel. "Ons moet onthou die leerders is nie volwassenes nie. Hulle is kinders wat ook moet leer om te kan praat en boeliegedrag aan te meld."
Schoeman gee ouers en leerders van die skool die versekering dat die beheerliggaam toevertrou word met kinders en dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om boeliegedrag te staak. "Die beheerliggaam bestaan grotendeels uit ouers van die skool asook uit verteenwoordigers van die leerlingraad. Dit is ons almal se kinders en almal moet die vrymoedigheid kan hê om te kan praat."
Beheerliggaam voorsitter, Marius Schoeman het boeliegedrag veroordeel en sê die beheerliggaam sal alles in sy vermoë doen om dit stop te sit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'