MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Erfenisvereniging is met heelparty interessante projekte besig om die dorp se kleurryke geskiedenis interessant en interaktief aan beide toeriste en inwoners voor te hou.
Tydens 'n vergadering met die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en ander senior amptenare op Dinsdag, 1 Augustus, is onder meer inisiatiewe bespreek om die ou Punt-begraafplaas te verfraai.
'n Meer moderne wyse waarop die lewensverhale van die dorp se eertydse leiers aan besoekers aangebied kan word deur onder meer QR-kodes, 'n gekarteerde staproete en 'n interessante naambord waarop die besonderhede van die oorledenes voorkom, is enkele van die inisiatiewe wat in die vooruitsig gestel word.
Dorpenaars kan ook betrokke raak by die projek om die begraafplaas en die ryke geskiedenis wat daarin vervat is, interessant vir toeriste en naasbestaandes aan te bied. Donasies vir die aanplant van gepaste struike, verbeterde wandelpaadjies en voorstelle vir verbeterings sal verwelkom word.
"Heelwat passasiers van plesierbote wat hier aandoen, wil nie noodwendig op besoeke aan naburige dorpe gaan nie. As Mosselbaai 'n interessante, interaktiewe wandelroete deur die dorp en omstreke met geskiedkundige besienswaardighede aanbied, kan dié toeriste oorreed word om hul tyd hier deur te bring.
"Regoor die wêreld is interessante begraafplase trekpleisters vir toeriste. Die unieke ligging van die Punt-begraafplaas dra hiertoe by."
St Blaize-roete
Behoorlike rigtingwysers en aanwysings na onder meer die vuurtoring en die St Blaize-staproete is as 'n dringende behoefte gelys. Die munisipale bestuurder het ook gevra dat roetewysers al langs die staproete aangebring word.
Mosselbaai Erfenisvereniging oorweeg 'n projek om gidse beskikbaar te stel om besoekers op die onderskeie staproetes te vergesel.
Die Erfenisvereniging het 'n sterk pleidooi gelewer dat veral die Mosselbaai hawe en die vuurtoring vir die publiek meer toeganklik gemaak moet word.
Klipwerk
Mosselbaai se unieke klipsteenwerk is bewaringswaardig en baie restourasie aan bestaande klipstrukture is nodig. Hoewel kundigheid tog nog beskikbaar is, bestaan die behoefte om veral jongmense in die kuns van klipwerk op te lei. Inisiatiewe om 'n ambagskool op Mosselbaai te vestig vorder fluks, en die gedagte is geopper dat die fyn vaardigheid van klipwerk oorweeg word as een van die ambagte wat aangebied moet word.
Twee klipgeboue wat onder meer dringende onderhoudswerk verg, is die sogenaamde tweede munisipale gebou in Markstraat, wat tans as kunsvlytsentrum bedryf word, en die Pavillion.
"As die Pavillion nie behoorlik in stand gehou word nie, sal dit vir altyd verlore wees vir die dorp," het adv Giliomee benadruk. Hy het Mosselbaai Erfenisvereniging gevra om betrokke te raak by die opgradering van die unieke gebou.
"Die Erfenisvereniging het reeds planne gemaak om aansoek te doen vir provinsiale erfenisstatus vir die gebou," aldus die voorsitter, Carina Wiggel.
'n Argitek wat in erfenisgeboue spesialiseer, sal waarskynlik by hierdie projek betrek moet word, veral in ag genome die opbou van sand onder die gebou sedert die breekwater verleng is.
Hierbenewens kort heelwat klipwerk in die Harry Giddey-park ook instandhouding.
Harry Giddey-park
Advokaat Giliomee het die Erfenisvereniging vir voorstelle gevra om die Harry Giddey-park beter aan te wend. "Die park word nie na behore benut nie, dit bied 'n lieflike groot, oop ruimte wat beter aangewend kan word."
Vroeër vanjaar is openbare insette vir die aanwending van die park aangevra, maar volgens terugvoer was die voorwaardes te beperkend. Hernude insette sal eersdaags aangevra word.
Kontak die voorsitter van Mosselbaai Erfenisvereniging, Carina Wiggel (082 687 9744) vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'