Diesel van alle grade het terselfdertyd met 78c per liter gestyg. Die prys van vloeibare petroleumgas het met 129c per kilogram toegeneem, terwyl parrafien meer as 50c per liter duurder is.
Hierbenewens is 'n toename in die internasionale petroleumprodukpryse deur die loop van die maand en die leiheffing (slate levy), wat ook met 2,2c per liter verhoog het, redes vir die aanpassing, wat weer die prys per liter in Gauteng oor die sielkundige vlak van R13 per liter gestoot het. Aan die kus sal motoriste vir 95-oktaan petrol R12,86 per liter moet opdok.
Hoofekonoom van die Efficient Group, Dawie Roodt, reken dat die brandstofprysaanpassing ook die inflasiekoers gaan beïnvloed, terwyl ekonome landwyd spekuleer oor die effek van die aanpassings op openbare vervoer wat reeds gebuk gaan aan 'n gebrek aan voldoende alternatiewe om óf passasiers, óf vrag effektief te vervoer.
Openbare vervoer
Lesers met wie die Mossel Bay Advertiser oor die brandstofprysstyging gepraat het, het dit betreur dat Mosselbaai nie oor behoorlike openbare vervoer beskik nie.
Benewens die brandstofprys, is die gebrek aan beskikbare parkering in veral die middedorp as verdere motivering vir die noodsaak vir openbare vervoer aangevoer.
Die woordvoerder van die Mosselbaai Munisipaliteit, mnr Harry Hill, berig, "Die Wes-Kaapse Regering het raadgewende ingenieurs aangestel om geïntegreerde vervoerplanne vir alle munisipaliteite in die Eden munisipale distrik op te stel. Voortspruitend uit die plan wat vir Mosselbaai opgestel is, is die Munisipaliteit op die punt om 'n Art 78(3)-verslag ingevolge Munisipale Stelselswet aan die Raad vir oorweging voor te lê. Die doel van 'n Artikel 78(3)-ondersoek is om aanbevelings te doen oor die verskaffing van 'n diens deur 'n eksterne meganisme.
"Munisipaliteite is egter verantwoordelik vir die befondsing van openbare vervoerinfrastruktuur, wat na verwagting baie duur sal wees en, tensy eksterne befondsing bekom kan word, kan dit 'n onbekostigbare las op die dorp se belastingbetalers plaas." Dit volg op die buurdorp, George, waar ver gevorder is met die totstandkoming van 'n openbare vervoerdiens. Op Woensdag, 26 Junie is 'n verdere deurbraak gemaak toe die George Geïntegreerde Openbare Vervoer Netwerk Ooreenkoms (GIPTN) ooreenkoms tussen taxi verenigings en die regering onderteken is.
George is een van 13 stede landwyd wat deel vorm van die transformasie van die taxi industrie wat deur die Nasionale Tesourie en die provinsiale departement van vervoer sedert 2005 ondersteun word.
Salaris-aansprake
Sakelui is ook bekommerd oor die effek van die brandstofprysheffing op salaris aansprake terwyl Suid-Afrika regmaak vir die sogenaamde 'seisoen van salarisonderhandelings'.
"Dit gaan duurder word om besigheid te doen," meen 'n sakeman wat nie sy naam genoem wil hê nie, "terwyl Suid-Afrika reeds gebuk gaan onder baie hoë arbeidskoste. Werkers moet ook maar meer opdok vir kos, vervoer en diensterekenings."
Ruk die sak
Plaaslik het talle motoriste op Dinsdag by vulstasies tougestaan om vir oulaas van die 'goedkoper' brandstof aan te koop. Gemoedere het by tye hoog geloop, maar tog het allerweë 'n gelatenheid geheers.
Lesers waarmee die Advertiser gesels het, was dit eens dat hulle op luukshede sal moet sny om die huishoudelike begroting te maak klop.

Trish Joubert is 'n onderwyser en moet elke dag tussen Groot Brak en die skool op George pendel. "Ek ry reeds 'n klein motortjie, wat nog kan ek doen om op brandstof te spaar?"

Ruaan Smith is 'n student wat van sy motor afhanklik is om by die klas te kom. "Ek hoop maar my pa sal help. Ons kan nie saamry klubs vorm nie, want ons klasse verskil te veel."

'n Mens sal twee keer moet dink en beter beplan voordat jy sommer net ry, meen André Smook van Mosselbaai. "Dit gaan moeiliker raak vorentoe, want alle pryse gaan hierdeur geraak word."
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'