MOSSELBAAI NUUS - Hartenrus-aftree-oord se "prins" het op Donderdag, 12 Mei sy 90ste verjaarsdag in dié aftree-oord in Hartenbos gevier.
Sy drie kinders, Niel van Mosselbaai, Renier van George en sy dogter Edeen de Beer van Melbourne, Australië het saamgespan om die dag vir hom ekstra speisaal te maak.
Eddie Prins is 1932 op De Aar gebore, maar het op Mafikeng in die ou Wes-Transvaal grootgeword en sy skoolloopbaan daar voltooi.
Dit is ook hier waar hy sy vrou, Doreen, ontmoet en word die twee in 1954 in die eg verbind. Hulle was vir 67 jaar getroud totdat Doreen in 2021 oorlede is.
Behalwe hul drie kinders is hulle ook die trotse grootouers van agt kleinkinders.
Burgemeester
In 1963 verhuis hulle na Worcester waar Eddie spoedig die oog vang en in 1966 tot die stadsraad verkies word. In 1980 het hy onderburgemeester geword en was vanaf 1981 – 1986, burgemeester.
Hy het hom beywer vir ‘n groot stadsaal vir 1 000 mense, wat in sy tyd gebou is, het die Afrikanerklub gestig, ‘n groep mense wat hulle op die welsyn van die inwoners toegespits het en het ook die bou van die Hugenote-tonnel deur die Du Toitskloofberge van naderby beleef.
Daarbenewens het hy op verskeie rade gedien.
Eddie het met baie vername mense, politici en selfs staatspresidente wat Worcester besoek het, skouers geskuur.
Hulle het dikwels die plaaslike skou kom open of ‘n verskyning by ‘n politieke vergadering kom maak.
Hartenbos
Na 29 jaar op die stadsraad het Eddie uitgetree en na 35 jaar in Worcester het hy en Doreen na hulle strandhuis op Hartenbos verhuis. Einde 2020 het hulle plek in Hartenrus gekry.
Eddie eer Doreen, wat deur baie jare tydens sy deeltydse studie en as stadsraadslid, en later as burgemeestersvrou, steeds getrou aan sy sy gestaan en hom deur dik en dun ondersteun het. Hy is bowenal dankbaar vir God se genade wat hulle gedra het.
Hy het goeie herinneringe, die wete dat hy in beste belang van die dorp (Worcester) en sy inwoners opgetree het waar hy soms ‘n beslissende stem oor groot besluite moes uitbring, en vrede dat hy altyd na sy gewete geluister het.
As groot sportman het hy rugby, tennis, gholf en rolbal gespeel en deesdae vind hy vreugde daarin om na die verskillende sportsoorte op die televisie te kyk.
En is uiters gelukkig, tevrede en dankbaar om in Hartenrus ‘n holte vir die voet te hê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'