Daar was egter nie die nodige fasiliteit hiervoor in plek nie en die registrasieproses vir die bedryf van ‘n formele crèche, is nog nie afgehandel nie. Intussen is daar deur die bemiddeling van Isaac Lawack, Department Sosiale Ontwikkeling verbonde aan die Eden Distrikmunisipaliteit, aansoek gedoen vir die formele registrasie van sodanige groepie. Verlede Woensdag, het Lena en haar handjievol helpers egter die daad by die woord gevoeg en onder kleurvolle sambrele, speelgoed, tafeltjies en stoeltjies vir die kinders uitgepak en die speelgroep aan die gang gesit met etlike kleuters, op ‘n grasperk reg langs die N2 snelweg.
Mnr Lawack het die Uitvoerende Burgemeester van die Eden Distriksmunisipaliteit , Raadslid Wessie van der Westhuizen en die Uitvoerende Burgemeester van Mosselbaai, Raadsdame Marie Ferreira genooi om na die toneel te kom om die situasie onder hulle aandag te bring en samesprekings te voer. Samesprekings het plaasgevind tussen vroulike lede van die Powertown-gemeenskap en verteenwoordigers van die genoemde munisipaliteite, insluitend mnr Vuyani (Eden Distriksmunisipaliteit), mnr Colin Puren en Raadslid Harry Levendal, Uitvoerende Onderburgemeester van Mosselbaai. Die behoefte aan ‘n fasiliteit waarin die speelgroep gehuisves kan word is bespreek.
Tydens die samesprekings is aangedui dat ‘n tydelike struktuur beskikbaar gestel sal word aangesien die Powertown-gemeenskap binnekort na ‘n ander area geskuif sal word. Powertown het tydens die swaar reënval in Junie weer onder vloedskade deurgeloop. Dit is reeds 'n geruime tyd die plan om die Powertown-gemeenskap te verskuif, omdat hulle onder die 1:50 jaar vloedlyn van die Klein-Brakrivier woon.
Die Uitvoerende Burgemeester van Mosselbaai, Raadsdame Marie Ferreira het egter benadruk dat die fasiliteit wat vir die speelgroepie beskikbaar gestel sal word, slegs tydelik sal wees, in die lig van die Powertown-gemeenskap se beplande verskuiwing.
‘n Groep sorggewers van Powertown tydens informele samesprekings met die Uitvoerende Burgemeesters van Mosselbaai, Raadsdame Marie Ferreira en Eden Distriksmunisipaliteit, Raadslid Wessie van der Westhuizen.