MOSSELBAAI NUUS - By die jaarlikse potpourri-vergadering van VLV Voëlvlei het die vroue behoorlik pret gehad met allerhande aktiwiteite en demonstrasies. Lede van die bestuur het elk in hulle afdelings ‘n bydrae gelewer.
Breingim was die onderwerp van gesondheid. Met vingeroefeninge en ‘n sirkelblokkiesraaisel, sowel as ‘n potpourri van idees vir breinoefeninge, is die belangrikheid daarvan tuisgebring.
Met ‘n ouerwordende gehoor bly dit nodig om die brein deurentyd uit te daag om meer verbindings te vorm.
Besemstokbrei met ‘n hekelpen is gedemonstreer. Vir die onkundiges was dit ‘n openbaring dat ‘n baie dik breipen ‘n besemstok kan vervang.
Die vingers het behoorlik gerol, geplak en gepodge toe kuns en handvlyt aan die beurt gekom het. Elke lid het twee oorbelle gemaak van papierkrale. Hierdie aktiwiteit het ook gesorg vir heerlike gekuier en gelag rondom die werkstafeltjies. Daar is ook gewys op die positiewe invloed van lag op die ontwikkeling van die brein. Agterna is behoorlik gespog met die pragtige produkte.
Openbare sake het ‘n interessante vasvra ingesluit. Ongelukkig het niemand geweet wie die argitek van die Afrikaanse Taalmonument was nie.
Onder groot gelag is antwoorde gesoek en meesal gevind ook.
Die kompetisies het onder andere die pragtigste houthuisies voortgebring. Van ‘n straatjie in ‘n ‘township’ tot ‘n Kersfees in Switserland en ‘n raampie vol kleurvolle huisies is deur almal bewonder.
Voorbeelde van artikels vir komende kompetisies is aan die lede gewys. ‘n Manshemp, ‘n trui wat gebrei word sonder ‘n enkele naat wat toegewerk moet word, ‘n drasak gemaak van ou dasse bied groot uitdagings aan voornemende deelnemers.
Geverfde houthuisies gemaak deur Betsie van Antwerpen.
'Ons bring jou jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'