Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die dubbelkajuit-bakkie van Heinz Kempe (78) wat op Dinsdag, 23 November verdrink het, was heeltemal onder die vloedwater verswelg.
Kempe het om ongeveer 09:00 probeer om die laagwaterbrug op die Geelbeksvleipad naby Brandwag oor te steek toe sy voertuig deur 'n sterk stroom meegesleur is.
Die tragiese voorval volg na hewige reënbuie op Mosselbaai die afgelope week.
Die distrik se rampeenheid het bevestig dat die pad op Maandag, 22 November gesluit is nadat die watervlak by die brug gestyg het.
FOTO'S: Vloedwater tragedie op Geelbeksvlei pad
Adjudant-offisier Pierre Botha, koördineerder van landelike beveiliging vir die Da Gamaskop-polisiestasie was die eerste polisiebeampte op die toneel.
Botha het dadelik na die bakkie geswem. Nog 'n omstander, Craigton Vitealingum het ook ingeswem om Botha by te staan.
Adjudant-offisier Pierre Botha het in die water ingeswem nadat Heinz Kempe se bakkie deur vloedwater meegesleur is.
Pikdonker
Botha sê: "Die water was pikdonker en die dak van die bakkie was onder die water. Die vensters was toe en die deure gesluit."
In 'n desperate poging om die venster stukkend te slaan het Botha sy hand gesny.
"Ek kon nie die venster oopbreek nie, maar omstanders op die toneel het vir my 'n stuk yster gegee. Ek kon nie sien wie in die voertuig is nie en het die regter agtervenster stukkend geslaan en toe ingeswem."
Botha sê hy moes in die bakkie rondvoel omdat hy niks kon sien nie.
Hy het toe vir Kempe uit die bakkie getrek.
Kempe is na die wal geneem waar mond-tot-mond-asemhaling op hom toegepas is.
"Ek het teruggeswem en weer in die bakkie ingeduik om te voel of daar nie dalk nog iemand vasgekeer is nie."
Kempe is op die toneel dood verklaar.
VIDEO: Grey Stopforth
Hy het in die Brandwag-omgewing saam met sy vrou, Elize gewoon.
Die Kempe-familie het versoek dat geen foto's van Heinz Kempe gepubliseer word nie. Kempe se dogter, Angelika het aan die Mossel Bay Advertiser gesê die familie se harte is gebreek oor haar pa se tragiese dood.
Die Da Gamaskop-polisie het 'n dossier vir geregtelike doodsondersoek geopen.
Die polisie ondersoek ook beweringe dat iemand die waarskuwingsborde by die laagwaterbrug vóór Kempe se verdrinking, verwyder het.
Omstanders en polisie op die toneel by die laagwaterbrug waar Mosselbaaier Heinz Kempe verdrink het.
Verwante artikels:
- Driver of bakkie identified
- Road where driver drowned had been closed
- Bejaarde se liggaam uit bakkie in vloedwater gehaal
- Vloedwater verswelg voertuig
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'