MOSSELBAAI NUUS - Lede van die Langeberg K9 honde-eenheid, in samewerking met die polisie op Groot-Brakrivier het Maandagoggend, 8 Januarie omstreeks 09:30 flink opgetree toe hulle twee passasiers uit 'n voertuig gered en die bestuurder daarvan na 'n wilde jaagtog aangekeer het.
Volgens inligting was die lede onderweg van George na Mosselbaai toe hulle 'n verdagte voertuig, 'n wit VW Golf naby Pacaltsdorp bemerk wat oor die pad na die middelman op die N2 swaai. 'n Vrou het uit die bewegende voertuig gespring. Die honde-eenheidlede het haar te hulp gesnel toe die bestuurder van die voertuig hulle probeer omry. In die proses het sy voertuig lank genoeg stilgestaan sodat hulle 'n ander manlike insittende uit die voertuig kon haal.
Die bestuurder het toe weggejaag teen 'n hoë spoed en is agternagesit deur die polisie. Die polisie op Groot-Brakrivier het ook hulp verleen onderweg, maar die voortsnellende voertuig het hulle ontglip.
Die voertuig is eers naby Mosselbaai, in die omgewing van die Langeberg Mall en Shell Voorbaai deur die polisielede tot stilstand gedwing. Die polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, kapt Malcolm Pojie het by navraag bevestig dat daar wel op die voertuig geskiet is aangesien die bestuurder geweier het om op bevel van polisielede te stop. Die buiteband van die VW Golf is getref waarna die voertuig tot stilstand gedwing is.
Die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem en is aangehou by die Da Gamaskop-polisiestasie, waarna hy oorgeplaas is na die Pacaltsdorp-polisiestasie. Die twee passasiers is na 'n plaaslike hospitaal geneem vir mediese behandeling. Die 14-jarige meisie wat uit die voertuig gespring het, is volgens inligting na die George provinsiale hospitaal oorgeplaas. Die man is vir skok behandel en volgens inligting dieselfde dag nog ontslaan.
Pacaltsdorp-polisie se speurtak ondersoek sake van poging tot moord sowel as roekelose en/of nalatuige bestuur teen die 26-jarige bestuurder. 'n Ingeligte bron het gesê dat die man 'n psigiatriese pasiënt blyk te wees wat onlangs behandeling in Valkenburg psigiatriese hospitaal in Kaapstad ontvang het.
Die verdagte sou Dinsdag, 9 Januarie in die George-landdroshof op die aanklagte teen hom verskyn, maar die saak is nie op die rol geplaas nie. Die verdagte is intussen vrygelaat hangende verdere ondersoek, aldus kapt Pojie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'