GROOT BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier het hande gevat met plaaslike verkeersbeamptes en die polisie se eenheid vir openbare geweld om ongehoorsame inwoners tydens die Paasnaweek op Wolwedans te beboet wat nie die regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur nakom nie.
Meer as 30 inwoners is tydens die eerste paar dae van inperking beboet óf in hegtenis geneem omdat hulle steeds, tenspyte van die versoek om tuis te bly, en slegs vir noodsaaklike produkte hul huise te verlaat, die strate ingevaar het.
Die polisie het veral hulle hande vol gehad met ouers wat hul kinders steeds in die pad laat speel, terwyl die ouers in hul wonings is.Gedurende die afgelope paasnaweek het die polisie 'n padblokkade in die gebied gehou, en ook in die woonbuurt ingevaar.
Polisiewoordvoerder, sersant Laurianne Botha sê inwoners is deur die polisie gewaarsku om nie hul wonings te verlaat nie, mits dit vir noodsaaklikhede is, soos kos of mediese hulp." Verskeie boetes is uitgereik teenoor motoriste wat nie kon bewys dat hulle vir noodsaaklikhede reis nie. Inwoners wat hul kinders in die pad laat speel het en wat nie in hul huise gebly het nie, is ook beboet."
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'