Rowe word veral toenemend aangemeld in klowe en deurlope in veral Uitbreiding 13, 8 en 23.
Hermanus-, Kiewiet- en Keeromstraat word spesifiek uitgewys in hierdie geval. Dit blyk ook uit bestaande statistieke dat hierdie misdade daagliks plaasvind tussen veral 05:00 en 10:00 en dan weer vanaf 17:00.
Volgens kapt Wollie Fourie, kommunikasie-beampte van die SAPD Da Gamaskop, word daar deurlopend gesprek gevoer met die Mosselbaai Munisipaliteit rakende ontbossing en die aanbring van addisionele beligting in gewraakte areas ten einde misdaad hok te slaan.
Voetgangers wat alleen is, is veral maklike teikens en meestal die slagoffers wat rowe kom aanmeld. Van die brandpunte in hierdie gevalle is Bill Jeffreyrylaan, Marlin-, Grunter- en Millerstraat. Die deurloop tussen die nuwe Asazani-ontwikkeling, oftewel 'Drie Susters' en Hillcrest Sekondêre Skool is veral 'n problematiese area.
Diefstal uit motorvoertuie kom weer meer algemeen voor in Uitbreiding 13, onder andere Sampsonstraat. Die gemeenskap word gemaan om hulle voertuie sover moontlik binne hul erwe te parkeer en nie enige waardevolle items in hulle motors te laat nie.
Een van die nuwe tendense wat ook al hoe meer kop uitsteek is die diefstal van brandstof vanuit motorvoertuie wat buitekant geparkeer staan.
Die publiek word ook gemaan om nie alleen nie, maar verkieslike in groepe op veral Diasstrand te gaan stap. Hengelaars moet ook verkieslik in groepe na gewilde viswaters soos Diasstrand gaan, aangesien daar in die afgelope tyd dikwels gewapende rowe hier plaasgevind het.
Selfooneienaars word gemaan om nie hulle selfone te herlaai op plekke waar dit sigbaar en maklik bekombaar is vir voornemende diewe nie.
"Dit gebeur dikwels dat iemand 'n selfoon op 'n kombuistoonbank herlaai terwyl die kombuisdeur oopstaan en dit is baie maklik vir iemand met kwade intensies om net verby te stap en dit te neem. Onthou – enige tyd is 'n geleë tyd vir 'n opportunistiese krimineel," sê kapt Fourie.
Die SAPD moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak in straatkomitees en op hierdie manier aktief te wees in misdaadbekamping. Aldus kapt Fourie het huisbrake in Sektor 2 van die Da Gamaskop-area drasties afgeneem sedert die ontstaan van aktiewe gemeenskapspatrollies in Maart vanjaar.
"Die SAPD het die gemeenskap se samewerking nodig wat betref die voorkoming en bekamping van misdaad. Staan 'n slag buitekant jou huis of sake-onderneming en kyk waar lê die swakplekke wat in 'n krimineel se guns kan tel om misdaad te pleeg."
'n Paar praktiese wenke om te onthou:
- Wanneer jy 'n slagoffer van misdaad word, rapporteer die saak by die SAPD. Op die manier kan misdaadtendense bepaal en aangespreek word.
- Wanneer 'n saak by die SAPD gemaak word, maak seker dat jy bereid is om in 'n hof te getuig ten einde die regsproses suksesvol te laat plaasvind.
- Moenie alleen stap op aangeduie tye en roetes nie.
- Indien jy gekonfronteer word deur 'n krimineel wat jou wil beroof, moenie weerstand bied nie.
- Wees oplettend vir enige fisieke eienskappe van jou aanvaller, soos kleredrag, littekens, ensovoorts, ten einde 'n goeie beskrywing van die verdagte te kan lewer.
- Skryf soveel moontlik besonderhede van die voorval dadelik neer voordat jy enige besonderhede daarvan kan vergeet.
Vir foto's van die gebiede wat geïdentifiseer is, klik hier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'