Die Da Gamaskop Stasiebevelvoerder, Kol Charmain van der Sandt, het haar personeel bedank vir hul uitstaande samewerking en die positiewe resultate wat die afgelope jaar behaal is. Sy het lede aangemoedig om 'n gesonde lewenstyl te handhaaf, hard te werk en aktief aan sport deel te neem.
Erkennings is gegee aan twee lede; Ao Edwin Plato en Poeg Abrahams, wat in die afgelope 18 maande gesterf het en 'n groot leemte by die SAPD en hul families gelaat het.
Die Da Gamaskop Gebiedsbevelvoerder, Brigadier Gerhard Jantjies, het by voorbaat die lede geluk gewens met hul toekennings. Hy het weer eens daarop gewys dat die SAPD daar is om te dien en te beskerm. Misdaad en kriminele elemente moet uitgeroei en verwyder word.
Die SAPD en die gemeenskap het 'n gesamentlike verantwoordelikheid om misdaad aan te spreek. Hierdie feesseisoen is geen uitsondering nie. Polisielede se gades en gesinne is bedank vir hul lojale ondersteuning en reuse aandeel in die sukses van die SAPD. Almal is ook 'n geseënde feesseisoen en voorspoedige 2012 toegewens.
Lede wat toekennings ontvang het, is:
Sportman van die Jaar 2011:
Ao Christo Westraadt (Rolbal) - Ontvang 'n naweek se gratis verblyf buite seisoen vir vier persone van mnr Mornay Beukes van die ATKV Hartenbos.
Sportvrou van die Jaar 2011:
Kaptein Archie Louw (Skopboks) - Ontvang 'n naweek se gratis verblyf buite seisoen vir vier persone van mnr Mornay Beukes van die ATKV Hartenbos.
Speurder van die Jaar 2011:
Speurder Ao Hannes "Faber" Nortje. Hy ontvang die Baruch's Coffee wisseltrofee, 1 kg Baruch's koffie, R500 kontant van mnr Nico Kritzas van Mikeva Wholesalers, en Old Leather reukwater.
Administratiewe lid van die Jaar 2011:
Ao Christo Westraadt - ontvang die Shell Heiderand wisseltrofee en R500 kontant van mnr Ben Willemse van Shell Heiderand.
Vispol lid van die Jaar 2011:
Ao Chris Nortje - ontvang 'n wisseltrofee en 'n naweek se gratis verblyf vir twee persone buite seisoen ter waarde van R1 600 van ‘C the View Gastehuis’ van Charlotte Oberholzer van Rheebok..
Nominasies vir Ondersteunings lid van die Jaar 2011:
Vlak 1 - Simpiwe Thundezwa
Vlak 2 - Willem Tarentaal
Vlak 3 - SB van Romburgh
Vlak 5 - Deon Terblanche
Vlak 6 - Alfie Dreyer
Vlak 7 - Ao Christo Westraadt
'n Spesiale toekenning is gedoen aan mev Ekermans (telefoniste) vir haar toewyding en deursettingsvermoeë ten spyte van 'n ernstige siekte toestand.
'n Spesiale prys is oorhandig aan Willem Jantjies en sy vrou, Loretta. Annette Fourie van B@Home gastehuis het 'n verblyfkoepon geborg.
Arrestasie van die Jaar 2011:
Ao Julic Meyer en Speurder Sers Whitey Solomons was instrumenteel in die ondersoek na 'n gewapende roof en arrestasie van vyf verdagtes.
Op 17 Januarie 2011 is twee sekuriteitswagte op die perseel van Mikeva Wholesalers in Keeromstraat deur gewapende rowers gedreig, oorrompel en vasgebind. 'n Trok ter waarde van R300 000, en drank ter waarde van R150 000 is gesteel. Die wagte het hulle losgewikkel en die SAPD oor die voorval ingelig. Tydens die aanvanklike ondersoek is 'n perseel te KwaNonqaba geïdentifiseer en onder observasie gehou, waarna lede gemobiliseer en op die perseel toegeslaan het. Tydens hierdie optrede om 04:00 is daar op die SAPD gevuur en het die SAPD terug gevuur en 'n verdagte gewond.
Tot en met die laaste optrede om 15:30 is 5 verdagtes gearresteer en daar is beslag gelê op drank ter waarde van R100 000.
Die gesteelde trok, wat verlate gevind is in Koningkliplaan, Uitbreiding 26, is aan die eienaar terugbesorg.
Lede van SAPD Mosselbaai, KwaNonqaba, Da Gamaskop, Highway Patrol Eenheid, Speurders, Seegrens eenheid, Honde eenheid Oudtshoorn en reserviste was by die suksesvolle optrede betrokke.
Die twee lede word egter uitgesonder en het die Leon Myburgh Wisseltrofee vir die Arrestasie van die jaar; 2011 ontvang. Daarbenewens het elkeen 'n wildrit vir twee, geborg deur Botlierskop (mnr Anoldt Neethling) en R500 kontant van die Da Gamaskop Sportklub ontvang.
Die SAPD Da Gamaskop wil graag die borge en individue bedank vir hul bydraes, samewerking teen misdaad en motivering van lede.
Misdaad kan slegs verhoed word wanneer die gemeenskap, in samewerking met die SAPD en Wetstoepassende instansies, "practise what we preach". Laat ons met trots kan sê: Wees my navolger en laat ons die standaard vorm vir ander om te na te volg.
Die Da Gamaskop Gebiedsbevelvoerder, Brigadier Gerhard Jantjies, wil die gemeenskap aanmoedig om hand aan die ploeg te slaan en nie terug te kyk nie.
Mag u die feesseisoen geniet en uitgerus wees om die Nuwe Jaar 2012 'n onvergeetlik en misdaadvry te maak.
Arrestasie van die jaar: me Myra Jantjies Brig Gerhard Jantjies, S/Sers Whitey Solomons en Kol Charmain van der Sandt.