MOSSELBAAI NUUS - Die Point Discovery Centre (PDC) het 'n ruim skenking van R500 000 ontvang.
Die oorhandiging van die tjek het op Dinsdag, 11 Februarie tydens 'n geleentheid wat by die sentrum aangebied is, plaasgevind.
Die minister van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Ricardo Mackenzie, saam met Mosselbaaise burgemeester, Dirk Kotzé en lede van sy raad, asook die hoofuitvoerende beampte van die KwaZulu-Natalse Amafa en Navorsingsinstituut, Mxolisi Dlamuka was genooi.
Die tjek was deur die departement van kultuursake en sport geskenk, en is aan die direkteure van die PDC, Gail Baatjies, Lodewyk Coetzee en Gwynnefer Harding, oorhandig.
Die sentrum het dié skenking ontvang as deel van sy pogings om 'n volwaardige toeriste-aantreklikheid op Mosselbaai te word.
'n Uitstalling by die sentrum is deur die Nelson Mandela Universiteit voorberei en sluit in artefakte en bewyse van moderne menslike gedrag.
Die sentrum vertoon artefakte wat by die Unesco-wêrelderfenisgebied in grot 13B by die Pinnacle Point Gholflandgoed in Mosselbaai ontdek is.
Moderne tegnologie sal sy eertydse glorie uitlig as deel van die Wieg van Menslike Kultuur.
Die sentrum sal ook geleenthede vir plaaslike gidse bied, opleiding ontvang en toegerus word deur top-argeoloë.
"Erfenis verbind ons; ons verlede en ons toekoms," het Mackenzie gesê.
Die sentrum is langs die St Blaize grot by Die Punt geleë, en het in Desember 2022 sy deure vir die publiek geopen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’